Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Polisie sê afpersingsvlakke is skokkend hoog in vier provinsies
# ActionSA stel ‘n regsgeding in teen die OVK weens ‘n gebrek aan ondersoek na die ANC se skuldooreenkoms van 150-miljoen-rand
# En, krieket: Vyftien vroue word ingesluit in Suid-Afrika se groep vir die Wêreldbekertoernooi en drie T20’s teen Pakistan
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê beamptes versterk hulle optrede teen afpersing, en teiken Gauteng, KwaZulu-Natal, die Wes- en die Oos-Kaap, wat verantwoordelik is vir 73-persent van die land se misdade. Onlangse polisie-optrede het uitgeloop op aansienlike botsings met afpersers in Kaapstad, Mthatha, Nelson Mandelabaai en Gauteng. Mchunu het aan die Nasionale Vergadering gesê die polisie skerp intelligensiepogings op en werk saam met plaaslike en provinsiale owerhede:
# ActionSA het ‘n regsgeding by die Verkiesingskommissie aanhangig gemaak omdat die ANC se skuldooreenkoms van 150-miljoen-rand met Ezulweni Investments nie ondersoek is nie. Die party beweer die OVK se gebrek aan optrede ondermyn die Wet op Partybefondsing se vereiste vir deursigtigheid en dat daar twyfelagtige finansiële praktyke met die ooreenkoms was. Nasionale voorsitter Micheal Beaumont sê die regsoptrede wil die OVK se besluite deursoek en uitdaag, en ‘n behoorlike ondersoek en deursigtigheid met partybefondsing verseker:
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor vereis van banke, versekeraars en ander finansiële instellings om hulle verbruikersopvoeding-bestedingsplanne bekend te maak kragtens ‘n nuwe Handves vir Finansiële Onderwysverbintenis. Die owerheid wil verbruikersbeskerming en finansiële geletterdheid verbeter met baie mense wat van salaris tot salaris lewe. Finansiële instellings moet nou 0,4-persent van hulle nabelastingwins aan finansiële opvoeding toewys en bewys hoe hierdie geld aangewend word. Hulle moet ook aandag gee aan kwessies soos piramideskemas en finansiële slenters.
# Krieket: ‘n Groep van 15 vroue is aangekondig vir die T20-Wêreldbekertoernooi en ‘n reeks teen Pakistan. Kaptein Laura Wolvaardt het die steun van ervare spelers soos Marizanne Kapp, Ayabonga Khaka, Suné Luus en Chloé Tryon. Die Proteas en Pakistan speel later die maand drie T20’s, en die Wêreldbekertoernooi begin op 3 Oktober in die Verenigde Arabiese Emirate. Die sameroeper van die Proteas se keurkomitee, Clinton du Preez, sê die Dolphins se bybreek-bouler, Seshnie Naidu, sal haar debuut maak:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-853-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-479-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-9-sent per vat.
# En ten slotte: Sestig-persent van Afrika se jeug dink daaraan om hulle lande van oorsprong te verlaat, want ongebreidelde korrupsie bedreig hulle toekoms. Dit blyk uit ‘n peiling van meer as vyf-duisend-600 jeugdiges in 16 lande. Korrupsie word beskou as die enkele grootste hindernis waarmee hulle te doen het om hulle potensiaal te bereik en ‘n beter lewe te hê. Die Ichikowitz-familiestigting in Johannesburg het die peiling onder mense tussen 18 en 24 gedoen. 2024 se Afrika-jeugpeiling is deur een-tot-een onderhoude in Januarie en Februarie gedoen in lande wat strek van Suid-Afrika tot Ethiopië.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….