Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Busongeluk in die Wes-Kaap eis tien lewens
# Die regering stel ‘n beleid in om geskorste amptenare te herontplooi tydens ondersoeke
# En, rugby: Daan Human sê die All Blacks se skrums is een van die beste in die sport
# Die Wes-Kaapse regering het bevestig tien bouwerkers is gisteraand dood en 12 ernstig beseer in ‘n busongeluk in Vanrhynspas op die grens met die Noord-Kaap. Die bus met bouwerkers was op pad na Ceres in die Boland toe dit van die pad geloop het. Die LUR vir Beweeglikheid, Isaac Sileku, sê die polisie ondersoek die saak. Hy sê ondersteuningsdienste, insluitend traumaberading, word vir die slagoffers en hulle gesinne gekoördineer.
# Geskorste staatsamptenare gaan nie langer teen volle betaling tuisbly nie. Die minister van die Staatsdiens en Administrasie, Mzamo Buthelezi, sê in plaas daarvan sal hulle na ander departemente of eenhede oorgeplaas word om hulle vaardighede in te span terwyl ondersoeke voortduur. Die nuwe riglyn is daarop gemik om spoedige dissiplinêre verhore te verseker en verlengde skorsings te verminder. Volgens die minister is die besluit deel van breër pogings om korrupsie te bekamp, met 53-persent van lank agterstallige skorsingsake wat in sekere departemente opgelos is:
# Die ANC-Jeugliga beskryf die werkloosheid in Suid-Afrika as ʼn nasionale ramp en waarsku oor moontlike jeugonrus indien dit nie dringend aangepak word nie. Die leier van die liga, Collen Malatji, sê meer as 70-persent van die jeug in die land is werkloos, en die liga vra verhoogde belegging in kapitaalinfrastruktuur, sterker openbare beleid en ʼn fokus op industrialisering om werksgeleenthede te skep:
# Die Handelsmisdaadhof in Palm Ridge, Gauteng, het die voormalige hoofingenieur van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika, Daniel Mtimkulu, tot 15-jaar tronkstraf gevonnis. Hy is daaraan skuldig bevind dat hy sy ingenieurskwalifikasies vervals en ‘n vals werkaanbod van ‘n Duitse maatskappy ingedien het om ‘n salarisverhoging te verseker. Die hof het sy veelvuldige bedrogaanklagte in ‘n termyn van 15-jaar saamgevat. Die Batebeslagleggingseenheid het ook beslag gelê op meer as 5,5 miljoen-rand van sy eiendomme om Prasa terug te betaal vir sy salaris wat hy op bedrieglike wyse verkry het.
# Rugby: Die Springbokke se skrumafrigter, Daan Human, sê die All Blacks se skrumwerk is van die beste in die spel. Die Bokke het die skrums oorheers in hulle eerste twee Rugbykampioenskapstoetse teen Australië, maar was nie so sterk teen Nieu-Zeeland nie. Suid-Afrika het wel daarin geslaag om later in die wedstryd teen die All Blacks op Ellispark ‘n paar skrum-strafskoppe af te dwing, maar Human sê daar is ruimte vir verbetering onder die pak voorspelers:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-185-dollar-83-sent. Die prys van goud is twee-duisend-491-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….