Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Suid-Afrika wil leer uit Shenzhen se suksesse in die digitale en groen ekonomie
# Die minister van Vervoer versoek Transnet om vraglogistiekherstel te verseker
# En, rugby: Daan Human sê die All Blacks se skrums is een van die beste in die sport
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika wil graag leer uit Shenzhen se vinnige ekonomiese ontwikkeling en sukses in die digitale en groen ekonomie. Hy het op ‘n sakeberaad in China benadruk hoe die stad se omskepping in ‘n globale tegnologie-spilpunt, Suid-Afrika se groeiplanne geïnspireer het. Ramaphosa së hy is geïnteresseerd om te leer uit Shenzhen se sukses in infrastruktuur- en vaardigheidsontwikkeling, veral deur groen energie en digitale vooruitgang. Hy het maatskappye van Shenzhen genooi om te belê in Suid-Afrika se hernubare energie-, gevorderde vervaardigings- en elektriese voertuigsektor.
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het Transnet se raad versoek om pogings te verskerp om die Suid-Afrikaanse vraglogistieksektor te laat herleef. Creecy het op Transnet se jaarvergadering gewys op die behoefte aan ‘n doeltreffende spoornetwerk om inklusiewe groei aan te vuur. Sy sê onlangse pogings wat die vragvermoë in 2023 op 1,49-miljoen ton te staan gebring het, moet vergroot word. Creecy vra strategiese behendigheid, samewerking in die bedryf en ooreenstemming met nasionale ekonomiese voorkeure om volhoubare groei te behaal.
# Die African Transformation Movement het die Departement van Binnelandse Sake versoek om die Suid-Afrikaanse burgerskap van die leier van die Cape Independent Movement en Referendum-party, Phil Craig, te hersien en te herroep. Woordvoerder Zama Ntshona sê Craig maak aktief voorspraak vir en bevordering van die onafhanklikheid van die Wes-Kaap. Volgens hom laat dit groot kommer ontstaan oor die potensiële fragmentering van Suid-Afrika. Hy sê dit sal die eenheid en verskeidenheid van die land ondermyn, tot ekonomiese onbestendigheid lei en moontlik opnuut maatskaplike en politieke spanning veroorsaak.
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, het ‘n verskoning uitgereik vir die ontwrigting van die aanlyn dienste van die Werkloosheidsversekeringsfonds. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Pretoria ‘n interdik uitgereik het wat die nuwe diensverskaffer se toegang tot die aanlyn portaal stopgesit het. Meth verseker die publiek dat dienspunte uitgebrei en bedryfsure verleng sal word om die toename in vraag te hanteer. Teboho Thejane van die departement sê ‘n ondersoek is aan die gang na die oorsaak van die ontwrigting:
# Rugby: Die Springbokke se skrumafrigter, Daan Human, sê die All Blacks se skrumwerk is van die beste in die spel. Die Bokke het die skrums oorheers in hulle eerste twee Rugbykampioenskapstoetse teen Australië, maar was nie so sterk teen Nieu-Zeeland nie. Suid-Afrika het wel daarin geslaag om later in die wedstryd teen die All Blacks op Ellispark ‘n paar skrum-strafskoppe af te dwing, maar Human sê daar is ruimte vir verbetering onder die pak voorspelers:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-175-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-496-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….