Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Planne om Transnet om te keer werp stadigaan vrugte af
# Green Connection sê minister Mantashe het versuim om die hof se spertyd na te kom in die TotalEnergies-regsgeding
# En, krieket: Engeland se waarnemende kaptein is teleurgesteld oor die klein skare op Lord’s op die vierde dag van die toets teen Sri Lanka
# Transnet se uitvoerende hoof, Michelle Phillips, sê planne werp stadigaan vrugte af om die beleërde staats-spoorweg- en hawensmaatskappy om te keer. Dit is ondanks ‘n groter verlies van altesaam 7,3-miljard-rand vir die boekjaar wat in Maart geëindig het, in vergelyking met vyf-miljard-rand die vorige jaar. Die verlies word hoofsaaklik toegeskryf aan derdeparty-regseise van altesaam 4,8-miljard-rand. Phillips bly ondanks hierdie terugslae optimisties en wys op pogings om die onderneming uit die rooi te kry:
# Green Connection en Natural Justice het hulle teleurstelling uitgespreek met die versuim van die minister van Petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe, om redes te verskaf vir sy besluit om TotalEnergies in Suid-Afrika omgewingsmagtiging toe te staan. Dit is ondanks ‘n hofbevel wat die minister opdrag gegee het om dit te doen. Die magtiging gee toestemming vir verkenningsboorwerk aan die kus tussen Kaapstad en Kaap Agulhas. Green Connection sê die magtigingsdokumente is noodsaaklik vir sy voortgesette regsoptrede teen die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing, asook TotalEnergies.
# Die vakbond Giwusa het dié maand se daling in brandstofpryse verwelkom. Die Departement van Petroleum en Minerale Hulpbronne het aangekondig 93- en 95-oktaan petrol sal van môre 92-sent per liter minder kos terwyl die dieselprys met een-rand-en-vyf-sent en 79-sent per liter daal. Giwusa se woordvoerder, Koketso Phasha, sê die daling bring slegs korttermynverligting en hanteer nie die basiese redes vir hoë brandstofpryse nie:
# Minstens 129 mense is dood na ‘n ontsnappingspoging uit die grootste tronk in die Demokratiese Republiek die Kongo. Die land se minister van Binnelandse Sake, Jacquemain Shabani, sê dit sluit 24 mense in wat geskiet is na waarskuwings. Minstens 59 is beseer in die Makala-tronk in die hoofstad, Kinshasa. Sy ministerie sê verskeie mense is vertrap of het versmoor en ‘n aantal vroue is verkrag.
# Krieket: Engeland se waarnemende kaptein, Ollie Pope, is teleurgesteld oor die swak bywoning op die vierde dag van die tweede toets teen Sri Lanka op Lord’s in Londen. Die gashere het die besoekers na tee met 190 lopies geklop, om die reeks 2-nul in te palm met een wedstryd oor. Net omtrent nege-duisend toeskouers het opgedaag nadat die beroemde stadion op die eerste drie dae byna uit sy nate gebars het. Pope sê dis jammer dit het so geëindig terwyl dit duidelik ‘n goeie dag se spel was.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-837-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-503-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….