Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 September 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het aan die Chinese president Xi Jinping gesê hy wil eers die handelstekort met Beijing verklein. Dit kom enkele dae voordat die Chinese 50 Afrikalande byeenbring met die doel om meer produkte na Afrika uit te voer.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei ook met president Xi Jinping se besoek. Die koerant berig Ramaphosa het aan die Chinese leier gesê Suid-Afrika het met sy regering van nasionale eenheid ’n nuwe tydperk in sy demokrasie betree.
Tweedens is daar nuus oor die Paralimpiese Spele. Louzanne Coetzee van Suid-Afrika sê die wedloop waarin sy ’n brons medalje verwerf het, het beslis haar eie verwagtinge oortref.
En laastens word berig die 21-jarige Cuan Karelse wat vir die moord op die Standerton-sakevrou Reneé Lea verskyn, het met sy tweede hofverskyning geen ondersteuning van familielede gehad nie.
# The Star en Pretoria News:
Skryf oudpresident Jacob Zuma sê hy was verantwoordelik om 18 LP’s van die MK-party af te dank. Hy sê hulle was op ‘n bedrieglike wyse in die verkiesingslys opgeneem, het ‘n gebrek aan vaardighede of was uitdagend.
En tweedens word berig die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê die samestelling van die regering van nasionale eenheid kan enige tyd verander.
# Sowetan:
Berig die familie van Daniel Mokwai wat beskuldig word dat hy sy vrou en haar neefs vermoor het vir versekeringsgeld, sê hulle het die polisie gehelp om hom vas te trek.
# En The Citizen:
Skryf die Bankvereniging van Suid-Afrika het aan die minister van Menslike Nedersettings, Mmamoloko Kubayi gesê sy is onverantwoordelik om die rassekaart te speel ten opsigte van die toekenning van huislenings.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met die nuus oor Louzanne Coetzee se prestasie by die Paralimpiese Spele.
Tweedens word berig die Streekhof in Bloemfontein het gehoor die geld wat gesteel is tydens die sogenaamde Byenes Dagsorgsentrum-moorde het regstreeks na die bankrekenings van die twee beskuldigdes gevloei.
En laastens is daar nuus oor Koos Meiring van Bloemfontein wat die helfte van sy wengeld op ‘n duif aan sy vriend André Erasmus gaan gee. Meiring het die duif wat nou 160-duisend-rand in ‘n wedvlug gewen het gratis by Erasmus gekry.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die onderwysvakbond Sadou het gedreig om te staak indien daar voortgegaan word met die besnoeiing van onderwysposte in die Wes-Kaap.
Tweedens skryf die koerant ten minste nege seisoenwerkers is dood toe ‘n bus van die VanRyhnspas op die grens tussen die Noord- en Wes-Kaap afgestort het.
En laastens is daar nuus oor Suid-Afrikaanse Rugby wat verskoning gevra het vir die oorvlug van ‘n vliegtuig Saterdag toe die All Blacks hul Haka uitgevoer het.
# En Cape Times:
Skryf ook oor Zuma se redes vir die afdanking van MK-lede.
En berig die bestuurshoof van Netcare, Richard Friedland sê hulle is gereed om die NGV te laat werk.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n raadslid van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit, Gamalihleli Maqula sê die ANC en munisipaliteit het hom geen ondersteuning gebied nadat hy ontvoer, geskiet en beroof is nie.
En skryf tweedens die families van die sogenaamde Cradock-vier is ongelukkig omdat die geregtelike doodsondersoek uitgestel is. Hulle wil hê die oud-Vlakplaasbevelvoerder, Eugene de Kock moet kom getuig.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf oor die verkeersowerhede wat ‘n ernstige beroep gedoen het om die slagting op KwaZulu-Natal se paaie te keer.
En berig ook oor Zuma se redes.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig twee raadslede van Gobabis het die minister van Stedelike en Landelike Ontwikkeling, Erastus Uutoni daarvan beskuldig dat hy hul oproepe ignoreer om beweerde korrupsie op die dorp te takel.
Tweedens skryf die koerant ’n voormalige kletsrymer is op borgtog van 65-duisend-rand vrygelaat nadat hy vir beweerde bedrog in hegtenis geneem is.
En laastens word berig die Ndamona-stigting het ’n kindervoedingsprogram in die Tsjaka-gemeenskap van stapel gestuur om voedselonsekerheid en honger te bekamp.