Nuus 07:00
BULLETIN 3 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA is versigtig oor ‘n banklening van 17-miljard-rand
# Die Suid-Afrikaanse Poskantoor sal die Parlement vandag inlig oor sy sakereddingsplan
# En krieket: Wanderers sal volgende jaar weer die eindstryd van die SA20 aanbied
# ActionSA het die Nuwe Ontwikkelingsbank se 17-miljard-rand lening vir water- en sanitasie-infrastruktuur versigtig verwelkom. Die party waarsku dit is bloot ‘n tydelike oplossing, as sistematiese ondoeltreffendheid, wanbestuur en swak onderhoud nie aangespreek word nie. Malebo Kobe van ActionSA beklemtoon Suid-Afrika se waterkwessies is die gevolg van dieper bestuursmislukkings en vra ‘n volledige opknapping van waterbronbestuur:
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, het twee raadslede van die Universele Diens- en Toegangsagentskap van Suid-Afrika verwyder. Daphne Kula-Rantho en Boitumelo Mabusela, wat tans as staatsamptenare in diens is, kon nie goedkeuring kry en bewys lewer dat hulle toestemming van werkgewers het om buite hul amptelike rol bykomende werk teen vergoeding te doen nie. Malatsi sê hulle het tot op hede meer as 1,6-miljoen-rand aan raadsfooie ontvang waarop hulle nie wetlik geregtig is nie:
# Die Suid-Afrikaanse Poskantoor gaan vandag die parlementêre portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologie inlig oor vordering met die instelling van ‘n sakereddingsplan. Die hof het in Julie verlede jaar die regering se aansoek om die Poskantoor in sakeredding te plaas, toegestaan. Die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologie sal na verwagting die komitee ook inlig oor KPMG se forensiese verslag oor die Posbank se bedrieglike transaksies van 9,5-miljoen-rand.
# Die EFF in Tshwane sê hy is gegrief om uit te vind die man wat vermoedelik sy partylid, Lebogang Mafa, in Soshanguve vermoor het, is Wisani Collen Shitimba. Mafa is die naweek in haar huis doodgeskiet. Die party sê Shitimba, wat vandag in die hof verskyn, is ʼn bekende misdadiger wat berug is vir sy roekelose gedrag en herhaalde oortredings. Die EFF sê die versuim om so ʼn misdadiger van die straat te hou, is ʼn aanklag teen die regstelsel en sy vermoë om burgers te beskerm.
# Die Verenigde Koninkryk het met onmiddellike ingang 30 van sowat 350 wapenuitvoerlisensies na Israel opgeskort. Dit volg na sy hersiening van Israel se nakoming van internasionale humanitêre reg tydens sy militêre operasies in Gaza. Die uitvoere sluit toerusting in wat in die oorlog in Gaza gebruik word, soos onderdele vir vegvliegtuie, helikopters en hommeltuie. Die minister van Buitelandse Sake, David Lammy, sê Israel se optrede in Gaza lei tot groot lewensverlies onder burgerlikes, vernietiging van burgerlike infrastruktuur en groot lyding:
# Krieket: Die Wanderers in Johannesburg sal volgende jaar weer die eindstryd van die SA20 aanbied. Dit word op die agtste Februarie gespeel. Die derde seisoen skop af by St George’s-park in Gqeberha op 9 Januarie, wanneer die tweemalige kampioene, Sunrisers Eastern Cape, M-I Cape Town verwelkom, wat spog met die dienste van Engeland se kaptein Ben Stokes. Die SA20-kommissaris Graeme Smith sê die derde seisoen sal groter en beter wees, en beloof ‘n somer van aksie-belaaide krieket.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-589-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-494-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….