Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 September 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met die Paralimpiese Spele: Die naelloper Mpumelelo Mhlongo het goud gewen in die mans T44 100 meter-finaal, en só Suid-Afrika se eerste medalje in Parys verseker. Hy het in sy beste tyd die seisoen van 11,12-sekondes afgereken met Yamel Vives Suares van Kuba wat silwer gewen het en Eddy Bernard van Maleisië wat brons ingepalm het. Intussen het Khumo Pitso vyfde geëindig in die mans se T24 hoogspring, terwyl Liezel Gouws agtste was in die vroue se T37 verspring.
# Vervolgens, rugby: Die Springbokke is ná drie rondes die enigste onoorwonne span in die Rugbykampioenskap nadat hulle Nieu-Seeland Saterdag op Ellispark 31-27 verslaan het. Die Bokke loop voor met 14 punte teenoor die All Blacks se ses, Argentinië se vyf en Australië se vier. Die Wallabies het Saterdag hul eerste sege van die Kampioenskap behaal toe hulle met die Pumas afgereken het. Springbokafrigter Rassie Erasmus sê dis belangrik om die kampioenskap te wen, maar hulle fokus nou op die volgende wedstryd teen Nieu-Seeland in Kaapstad.
# Nou motorsport: Die Ferrari-renjaer Charles Leclerc het die Italiaanse Grand Prix die tweede keer in sy Formule Een-loopbaan gewen. Leclerc het ‘n alternatiewe eenstop-strategie gebruik om stof te skop in die oë van Oscar Piastri en Lando Norris se McLarens. Carlos Sainz van Ferrari was vierde, Lewis Hamilton van Mercedes vyfde en Max Verstappen van Red Bull sesde. Norris het met sy derde plek Verstappen se voorsprong in die kampioenskap met agt punte tot 62 verminder met agt wedrenne wat oorbly. Leclerc hy was verras om te wen, gegewe die McLarens se pas:
# Ons loer in by gholf: Die wêreld-nommereen Scottie Scheffler het die einde van die seisoen se Tour-kampioenskap in Atlanta gewen. Die Amerikaner het op 30 onder baansyfer klaar gemaak en sy landgenoot, Collin Morikawa, met vier houe geklop ná ʼn gebeurtenisvolle ronde van vier-onder 67. Scheffler het sewe oorwinnings in vanjaar se PGA-reeks, asook ʼn Olimpiese goue medalje gewen. Hy is die eerste speler sedert Tiger Woods in 2007 om sewe titels in een seisoen te buit. Hy sê dit voel of hy in een jaar byna ʼn leeftyd geleef het:
# En ten slotte. tennis: Die verdedigende kampioen, Coco Gauff, is in die vierde ronde van die Amerikaanse Ope uitgeskakel. Sy het in drie stelle teen haar landgenoot Emma Navarro verloor. Die tweede-gekeurde Aryna Sabalenka van Belarus het die Belg Elise Mertens verslaan om die vierde keer die kwarteindronde te haal. In die mansafdeling het Alexander Zverev van Duitsland met die Amerikaner Brandon Nakashima afgereken. Daar was ook oorwinnings vir die Amerikaner Frances Tiafoe en die Bulgaar Grigor Dimitrov. Gauff sê sy kon beter afgeslaan het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….