Nuus 09:00
BULLETIN 2 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party Jeugliga waarsku teen opstokers in sy geledere
# ActionSA wil weet hoe Chidimma Adetshina se ma Suid-Afrika verlaat het
# En tennis: Coco Gauff is uit die Amerikaanse Ope
# Die MK-party se Jeugliga sê hy kan nie langer toekyk terwyl weerbarstige elemente binne eie geledere steeds die eenheid en vooruitgang van die liga vir hulle persoonlike gewin ondermyn nie. Dit volg na die voormalige jeugliga president, Bonginkosi Khanyile en die voormalige sekretaris-generaal, Minenhle Cibane, wat in April afgedank is, steeds byeenkomste reël en toesprake maak sonder enige formele toestemming. Die liga se woordvoerder, Nkateko Mkhabela, sê hulle doen ‘n beroep op die MK-party om in te gryp om te voorkom wat moontlik ‘n chaotiese opstand kan word:
# ActionSA sê hy het aan die Departement van Binnelandse Sake geskryf en gevra hoe die gewese Mej Suid-Afrika-deelnemer, Chidimma Adetshina, se ma die land kon verlaat om na Nigerië te reis. Sy word tans weens bedrog en korrupsie ondersoek. ‘n Voorlopige ondersoek deur die departement het bevind Adetshina se ma het na bewering ‘n Suid-Afrikaanse vrou se identiteit gesteel. Matthew George van ActionSA sê die departement het verlede maand gesê die ondersoek is op ʼn gevorderde stadium:
# Twee-en-veertig vermeende ongedokumenteerde werkers sal na verwagting vandag in die Coligny-landdroshof in Noordwes verskyn. Hulle is verlede week in hegtenis geneem omdat hul wettige status in die land nie bevestig kon word nie. Die verdagtes sluit burgers van Lesotho, Malawi en Zimbabwe in. Die eienaar van die konstruksiemaatskappy waar hulle gewerk het, is ook gearresteer, maar vrygelaat nadat hy ʼn skulderkenningsboete van 63-duisend-rand betaal het. Die polisie sê die inhegtenisnemings is deel van ʼn veldtog om nakoming van die Immigrasiewet te verseker.
# Groot boekuitgewers dagvaar die Amerikaanse staat Florida oor ‘n wet wat skole toelaat om sekere boeke uit hulle biblioteke te verbied. Uitgewers, waaronder Penguin Random House en Simon and Schuster, voer aan die wet skend reg tot vrye spraak ingevolge die Eerste Wysiging. Die wet laat die verwydering van boeke toe wat seksuele gedrag uitbeeld of beskryf, of wat onvanpas is vir die graadvlak en ouderdomsgroep van leerders. Onder die boeke wat verwyder is, is Ernest Hemingway se For Whom the Bell Tolls, Toni Morrison se The Bluest Eye en Leo Tolstoy se Anna Karenina.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Coco Gauff, is in die vierde ronde van die Amerikaanse Ope uitgeskakel toe sy met 6-3, 4-6, 6-3, teen haar landgenoot Emma Navarro verloor het. Die tweede gekeurde Aryna Sabalenka van Belarus het die Belg, Elise Mertens, met 6-2, 6-4 verslaan om vir die vierde keer die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope te haal. In die mansafdeling het Alexander Zverev van Duitsland met die Amerikaner Brandon Nakashima in vier stelle met 3-5, 6-1, 6-2, 6-2 afgereken. Daar was ook oorwinnings vir die Amerikaner Frances Tiafoe en die Bulgaar, Grigor Dimitrov. Gauff sê sy kon beter afgeslaan het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-593-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-497-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….