Nuus 07:00
BULLETIN 2 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA is bekommerd oor die ingrypende begrotingsbesnoeiings in onderwys
# Minstens 41 is beseer in Russiese lugaanvalle in Oekraïne
# En motorsport: Leclerc wen die Italiaanse Grand Prix
# Die DA sê die regering moet op alternatiewe plekke begrotings besnoei en seker maak noodsaaklike dienste soos onderwys word beskerm. Die Wes-Kaap sal volgende jaar as gevolg van ernstige begrotingsbesnoeiings meer as twee-duisend onderwysposte moet sny. KwaZulu-Natal kan intussen meer as elf-duisend onderwysposte nie meer bekostig nie. ‘n DA-woordvoerder, Delmaine Christians, sê hierdie krisis is die regstreekse gevolg van Nasionale Tesourie se versuim om die 2023-loonooreenkoms na te kom. Dit dwing provinsies om aansienlike begrotingstekorte te hanteer:
Die LUR vir Onderwys in die Wes-Kaap, David Maynier, het intussen beklemtoon geen onderwysers sal in 2025 ontslaan of afgelê word nie. Hy het egter aangekondig sommige skole sal onderwysposte moet verminder. Die besluit raak kontrakonderwysers wie se kontrakte in Desember eindig, en kan vereis dat sommige permanente onderwysers moet verskuif. Maynier herbeklemtoon die besnoeiings is as gevolg van begrotingstekorte weens onvoldoende befondsing:
# Die EFF sê die sesde administrasie se verslag van die portefeuljekomitee vir Openbare Ondernemings ontbloot die gebrek aan aanspreeklikheid, die strafloosheid en gebrek aan introspeksie. Die verslag skryf die staatsinstellings se agteruitgang die afgelope vyf jaar toe aan kwessies soos omgewingsuitdagings, die Covid-19-pandemie en betogings. Die EFF sê ʼn groot oorsaak van staatsinstellings in die Departement van Openbare Ondernemings se agteruitgang, is oudminister Pravin Gordhan se politieke inmenging in die instellings se tegniese operasies.
# Minstens 41 mense waaronder drie kinders is dood in Russiese lugaanvalle op die Oekraïnse stad, Kharkiv. Die aanval kom nadat Kiev ʼn vlaag hommeltuigaanvalle op teikens in Moskou uitgevoer het waar brande die naweek by twee energie-fasiliteite uitgebreek het. Volgens Rusland se verdedigingsministerie het meer as 158 Oekraïnse hommeltuie 15 streke in die land, insluitend die hoofstad, aangeval. Oekraïne se president Volodymyr Zelensky het sy Westerse bondgenote weer gevra om sy land alles te gee wat nodig is om homself te verdedig.
# Motorsport: Ferrari-renjaer Charles Leclerc het die Italiaanse Grand Prix die tweede keer in sy Formule Een-loopbaan gewen. Leclerc het ʼn alternatiewe eenstop-strategie gebruik om stof te skop in die oë van Oscar Piastri en Lando Norris se McLarens. Carlos Sainz van Ferrari was vierde, Lewis Hamilton van Mercedes vyfde en Max Verstappen van Red Bull het sesde geëindig. Norris het met sy derde plek Verstappen se voorsprong in die kampioenskap met agt punte tot 62 verminder met agt wedrenne wat oorbly. Leclerc hy was verras om te wen, gegewe die McLarens se pas:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-540-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-495-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-32-sent per vat.
# En ten slotte: Die gewese Eskom-voorsitter en uitvoerende hoof van MTN, Sifiso Dabengwa, het sy stryd teen kanker verloor. Sy familie sê sy termyn van 2011 tot 2015 as uitvoerende hoof van die MTN-groep is gekenmerk deur visionêre leierskap, integriteit en toewyding wat tot aansienlike vordering in die bedryf gelei het. Hy voeg by Dabengwa was ook ʼn kampvegter vir onderwys en het geglo in die mag van tegnologie om lewens te verander.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….