Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 September 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig daar word algemeen verwag dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank in September ‘n koersverlagingsiklus sal begin. Dit word ondersteun deur plaaslike en wêreldwye inflasietendense en ‘n verbeterde sentiment in die land ná die verkiesing en die vorming van die regering van nasionale eenheid.
GAUTENG:
# Beeld:
Staan sy hele voorblad af aan die Springbokke se naelbyt-oorwinning oor die All Blacks. Daar word spesifiek verwys na die uitstekende wedstryd van die jong Springbok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die EFF het die afskeidsgeleentheid vir hoofregter Raymond Zondo wat skynbaar oor twee dae aangebied is gekritiseer. Die hoofregter se kantoor wou na bewering ook nie enige koste bekendmaak nie.
En berig oor die voormalige KayaFM-aanbieder, die 50-jarige Thabiso Sikwane wat die naweek oorlede is.
# Sowetan:
Berig munisipaliteite in Limpopo het 280-miljoen-rand aan konsultante bestee om hul finansiële state op te stel, maar die ouditeur-generaal het bevind meer as die helfte was ondoeltreffend. Die koerant skryf dit dui op ‘n dringende behoefte aan vaardigheid in die provinsie se plaaslike regering.
# En The Citizen:
Haal vandag die Springbokkaptein Siya Kolisi aan in sy hoofopskrif. Dit lui: “DANKIE, THANK YOU, YOH”. Kolisi het sy dank teenoor die mense van Suid-Afrika uitgespreek vir hul ondersteuning.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met die Bok-sege.
En tweedens berig die koerant die salarisverhogings van meer as 500-duisend-rand per jaar wat vir departementshoofde in Mangaung bewillig is kon 30 verpleegpersoneellede in plaaslike hospitale befonds.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig opposisiepartye in die Wes-Kaap het ‘n beroep op die provinsie se premier, Alan Winde gedoen om die jongste verslag wat hy oor die George-gebouramp ontvang het bekend te maak.
En tweedens skryf die koerant die Wes- en Oos-Kaap het warm, sonnige weer beleef op Lentedag.
# En Cape Times:
Skryf onderwysvakbonde het die Wes-Kaapse regering veroordeel oor die beplande afskaffing van onderwysposte in 2025 weens begrotingsbesnoeiings.
En tweedens word berig Suid-Afrika se nuwe hoofregter Mandisa Maya lei ‘n nuwe era in vir die land se regsbank.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig misdaadbendes in Gqeberha se noordelike gebiede het nou ander voorstede binnegedring en voer ‘n skrikbewind in die eens vreedsame woonbuurte.
En tweedens skryf die koerant oor die kleurvolle eerbetoon vir die 12-jarige Aden Lewis wat in ‘n motorongeluk dood is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die stadsraad van eThekwini gaan sy werkskeppingsprogram op nuut van stapel stuur.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië se visepresident Netumbo Nandi-Ndaitwah sê sy is gefrustreerd oor die opknapping van die Onafhanklikheidstadion wat geen vordering toon nie.
En tweedens skryf die koerant die Walvisbaai-munisipaliteit het drie Swapo-raadslede geskors wat nie aan die orde-reëls voldoen het nie.