Nuus 11:00
BULLETIN 1 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaners word aangemoedig om die nuwe tweepot-aftreestelsel net vir noodgevalle te gebruik
# Twintig mense is dood in drie ongelukke in KwaZulu-Natal
# En rugby, die Haaie vermorsel die Griffons in ‘n Curriebekerwedstryd
# Met die tweepot-aftreestelsel wat vandag in werking tree word Suid-Afrikaners aangeraai om onttrekkings uit hulle aftreespaargeld net vir noodgevalle te gebruik. Die stelsel deel bydraes in onder ‘n spaarpot en ‘n aftreepot, met een-derde wat beskikbaar is. Johan Prinsloo van Sanlam het in ‘n onderhoud met die SABC beklemtoon die spaarpot is ‘n veiligheidsnet, nie ‘n primêre bron van inkomste nie:
# Mandisa Maya se termyn as Suid-Afrika se eerste vrouehoofregter het amptelik begin, as opvolger van Raymond Zondo. Maya is aangestel deur president Cyril Ramaphosa en haar rol sluit in leiding van die Konstitusionele Hof en die regbank. Haar aanstelling volg op ‘n deurtastende ondersoek deur die Regterlike Dienskommissie, wat haar uitsonderlike kwalifikasies en leierskap beklemtoon het. Maya was voorheen die hoof van die Appèlhof en haar uitgebreide regsondervinding toon haar vermoë vir hierdie geskiedkundige posisie.
# Elf mense is dood in ‘n botsing reg-van-voor op die R622 tussen Greytown en Mooirivier in die KwaZulu-Natalse Middeland, met drie mense wat gesterf het in nog ‘n botsing in KwaDukuza aan die provinsie se Noordkus. Nog ses mense is dood en tien is in die hospitaal na ‘n taxi-ongeluk op pad van Estcourt na Nkandla. Die woordvoerder van die Departement van Vervoer, Ndabezinhle Sibiya, het bevestig ‘n deeglike ondersoek is aan die gang:
# Die Demokratiese Republiek die Kongo kry vandag 65-duisend dosisse van die A-pokke-entmiddel. Nigerië het ook begin met die onmiddellike verspreiding van vyf-duisend van die tien-duisend entmiddels, en teiken hoërisikogroepe, onder wie gesondheidsorgwerkers. Die direkteur van die Wêreldgesondheidsorganisasie in Afrika, Matshidiso Moeti, sê die poging is deel van die vasteland se strategie om die uitbreking in talle lande te beheer. Sy wys op internasionale solidariteit agter die inisiatief, met voorrade wat verskaf word deur USAID en die inentingsliggaam, Gavi.
# En, rugby: Die Haaie het seker gemaak van ‘n plek in die halfeindstryd van die Curriebeker deur die Griffons met 75-19 te vermorsel. Die Haaie het elf drieë gedruk, met die Springbok vleuel Makazole Mapimpi wat vir vier daarvan verantwoordelik was. In die naweek se ander wedstryde het die Leeus die Bulls met 57-33 geklop, terwyl die Cheetahs met 44-31 die knie moes buig voor die Griekwas. Die Westelike Provinsie en die Pumas speel drie-uur vanmiddag teen mekaar. Na nege wedstryde elk is die Leeus boaan die punteleer met 38 punte, gevolg deur die Bulle, die Haaie en die Cheetahs.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….