Nuus 11:00
BULLETIN 31 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vertrek op ‘n staatsbesoek aan China en sal ekonomiese bande versterk
# Die brand ‘n jaar gelede in die Usindiso-gebou word vandag herdenk
# En, rugby: Die Wallabies-afrigter maak vyf veranderings vir die Pumas-toets
# President Cyil Ramaphosa het op ‘n staatsbesoek aan China vertrek en sal deelneem aan die forum by die China-Afrika-beraad in Beijing. Dit vind vanaf Maandag tot Donderdag plaas op uitnodiging van president Xi Jinping emet die oog om ekonomiese bande tussen die twee lande te versterk. Ramaphosa sal aan bilaterale gesprekke deelneem, die tegnologiesentrum in Shenzhen besoek, die sakeforum toespreek en medevoorsitter wees van ‘n hoëvlakpaneel oor die modernisering van Afrika. Ooreenkomste om ekonomiese samewerking te verbeter asook menslike nedersettings, landbou en tegnologie sal onderteken word.
# Die tragiese brand in die Usindiso-gebou in Johannesburg ‘n jaar gelede, waarin meer as 70 mense dood is, word vandag herdenk. Sewentien liggame is steeds in die lykshuis. ‘n Kommissie van ondersoek het bevind die Stad Johannesburg het die gekaapte gebou verwaarloos, waarin 200 plakkershutte opgerig is. Die president van die vakbond GIWUSA, Mametlwe Sebei, sê daar is niks gedoen om die gesinne wat geraak is by te staan nie:
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, beskou die ondertekening van die nuwe samewerkingsooreenkoms in die Wes-Kaap as ‘n betekenisvolle mylpaal in die stryd teen misdaad. Die ooreenkoms tussen die nasionale en provinsiale regering, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en plaaslike wetstoepassing wil ‘n veiliger omgewing vir die provinsie skep. Mchunu het in sy toespraak gevra vir verenigde optrede oor alle vlakke van die regering om die stygende misdaadsyfers in die provinsie aan te spreek:
# ‘n Veertienjarige meisie is dood nadat ‘n Russiese aanval op die oostelike Oekraïense stad Kharkiv ‘n speelgrond getref het. Minstens nog vyf mense is dood en tientalle beseer. Kharkiv is omtrent 35 kilometer van die Russiese grens af en is sedert Rusland se volskaalse inval in Februarie 2022 die teiken van gereelde aanvalle. President Volodymyr Zelensky het sy beroep hernu op al Oekraïne se bondgenote om aanvalle toe te laat op teikens in Rusland om sulke tragedies te keer. Oekraïne se Westerse bondgenote het toestemming deels weerhou uit vrees dat dit konflik sal eskaleer.
# En, rugby: Die afrigter van die Wallabies, Joe Schmidt, het verskeie veranderings aan sy span aangebring vir die toets teen die Pumas in La Plata. Daar is drie veranderings onder die voorspelers en twee onder die agterspelers aan die span wat twee weke gelede teen die Springbokke in Perth verloor het. Harry Wilson sal Australie se 90ste kaptein word en neem die leisels oor by Allan Ala-alatoa, wat op die bank begin. Die tweemalige wêreldkampioene is onder druk en is onderaan die punteleer. Afskoptyd is om middernag, Suid-Afrikaanse tyd.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….