Nuus 09:00
BULLETIN 31 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile neem vandag deel aan hoëvlak BRICS-energieseminaar
# ‘n Boer van Limpopo en sy twee werknemers se moordsaak is uitgestel vir ‘n borgtog-aansoek
# En, atletiek: Bayanda Walaza blink uit met ‘n naelloop-dubbel by die Wêreld Onder-20 Kampioenskap in Lima
# Adjunkpresident Paul Mashatile neem vandag deel aan die Hoëvlak Energieseminaar op BRICS se Negende Jaarlikse Nuwe Ontwikkelingsbank-ministersvergadering in Kaapstad. Die seminaar, met die tema Verseker Suid-Afrika se Toekoms, sal samewerkende geleenthede ontgin onder BRICS-lede asook die nuwe lede van die Nuwe Ontwikkelingsbank, waaronder Bangladesj, Egipte en die Verenigde Arabiese Emirate. Mashatile sal na verwagting Suid-Afrika se energiesektor-hervormings uiteensit, op grond van BRICS se ondervinding om netwerkbestendigheid en hernubare energie-integrasie te verbeter.
Die Nuwe Ontwikkelingsbank het intussen ‘n lening van vyf-miljard-rand met Transnet onderteken. Die lening sal die vernuwing Transnet se spoorvragsektor befonds, met die fokus op infrastruktuur en die opknapping van die vloot. Die uitvoerende hoof van Transnet Michelle Phillips het die dringende behoefte aan die verbetering van die spoornetwerk beklemtoon. Volgens Ben Joubert van BRICS SA is daar 13 infrastruktuurprojekte wat befondsing van 103-miljard-rand nodig het:
# Die saak teen die boer van Limpopo Zachariah Johannes Olivier en twee werknemers, wat aangekla word van moord met voorbedagte rade, is tot 10 September uitgestel vir ‘n borgtogverhoor. Die drie het in die Landdroshof in Mankweng verskyn op verskeie aanklagte. Mashudu Malabi-Dzhangi van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die aanklagte spruit uit ‘n onlangse voorval op Olivier se plaas waarin twee vroue dood en nog ‘n persoon gewond is:
# Oekraïne moedig Mongolië aan om die Russiese president Vladimir Putin te arresteer wanneer hy die land volgende week besoek. Dit is sy eerste reis na ‘n lidland van die Internasionale Strafhof sedert die liggaam ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik het. Die hof beweer Putin is verantwoordelik vir oorlogsmisdade en sê hy het nie die onwettige deportasie van kinders uit Oekraïne na Rusland stopgesit nie. Moskou het vroeër die aantygings ontken en die lasbrief as verregaande beskryf. Putin het verlede jaar ‘n besoek aan ‘n spitsberaad in Suid-Afrika gekanselleer na die hof die lasbrief uitgereik het.
# En, atletiek: Die Suid-Afrikaanse naelloopsensasie Bayanda Walaza het gisteraand die mans 200-meter ingepalm, nadat hy vroeër die week ook met die louere weggestap het in die 100-meter by die Wêreldkampioenskap in Lima in Peru. Walaza het eenvoudig uit die blokke gebars en ‘n tyd aangeteken van 20,52-sekondes. Walaza was deel van Suid-Afrika se silwermedalje vier-maal-100-meter aflosspan by die Olimpiese Spele in Parys. In nog ‘n stervertoning gister het Suid-Afrika se Udeme Okon die mans 400-meter gewen in ‘n tyd van 45,69-sekondes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….