Nuus 08:00
BULLETIN 31 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Politieke partye verklaar 189-miljoen-rand in die aanloop tot die verkiesing
# Die SABC gaan die Springbokke se toets teen die All Blacks uitsaai
# En, die politieke aktivis Sophia Williams-De Bruyn word met ‘n Leeftyd-prestasietoekenning vereer
# Politieke partye het skenkings verklaar van byna 190-miljoen-rand tussen April en Junie vanjaar, wat die meeste in ‘n kwartaal is sedert partybefondsingsregulasies in April 2021 van krag geword het. Dit was in die aanloop tot die verkiesing van 29 Mei. Die DA het meer as 56-miljoen-rand gekry, met die ANC wat net meer as 26-miljoen-rand verklaar het. Die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake het op 8 Mei in werking getree en het die drempel en perk geskrap wat partye van een skenker kan kry. Die Nasionale Partyskakelingskomitee het egter ingestem alle partye sal steeds hulle skenkings soos tevore verklaar.
# Die Vryheidsfront Plus sê die regering se inisiatiewe teen geweld is ondoeltreffend omdat misdaad teen vroue en kinders toeneem. Ondanks ‘n effense algemene verlaging in misdaad het die eerste kwartaal van 2024/2025 ‘n aansienlike toename beleef in vrouemoord, poging tot vrouemoord en kindermoorde. Die VF Plus vra ook plaasmoorde moet tot ‘n prioriteitsmisdaad verklaar word en waarsku teen oorgerustheid. Heloïse Denner van die party moedig die herbeoordeling aan van strategië teen dié dwingende kwessies:
# Die SABC en SuperSport het ‘n ooreenkoms bereik oor ‘n eenmalige vennootskap om gesamentlik vandag se Rugby Kampioenskapstoets tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland regstreeks op televisie uit te saai. Die aankondiging is gisteraand gedoen en beteken die wedstryd sal nie net uitgesaai word op betaalkanaal-televisie nie, maar ook op SABC2, die SABC Sports-kanaal en die SABC se radiostasies. Die vennootskap beteken die SABC sal vir die eerste keer sedert die 1995 Rugby Wêreldbekereindstryd ‘n toets tussen die Springbokke en die All Blacks regstreeks uitsaai. Die 1995-wedstryd was ook op Ellispark.
Motoriste word intussen gewaarsku verskeie paaie rondom Ellispark in Johannesburg is vandag gesluit vir vanmiddag se toets. Die strate is gisteraand afgesper en sal eers vanaand om tien-uur oopgestel word, met die afskop om vyf-namiddag. Baie druk verkeer word verwag en motoriste word aangeraai om die gebied indien moontlik te vermy en om alternatiewe roetes te gebruik. Prasa en die Gautrein het vroeër gesê hulle staan gereed om openbare vervoer aan ondersteuners te verskaf.
# En, die laaste oorlewende leier van die 1956-vroueoptog teen die apartheid-paswette, Sophia Williams-De Bruyn, is met ‘n Leeftyd-prestasietoekenning vereer. Sy het die Motsepe Stigting se Shining Light-toekenning in Johannesburg ontvang, wat haar onverskrokke leierskap erken. Die toekenning wil uitstaande vroue in leierskap verening en vier. Sy het meer vroue-deelname vir ekonomiese groei aangemoedig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….