Nuus 07:00
BULLETIN 31 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa beloof om die stryd teen misdaad en bendegeweld op te skerp
# Die SABC gaan die Springbokke se toets teen die All Blacks uitsaai
# En rugby: ‘n Nederlaag teen die All Blacks sal die Springbokke die nommer-eenstatus op die wêreldranglys kos
# President Cyril Ramaphosa het beloof om die stryd teen misdaad en bendegeweld in Kaapstad op te skerp met behulp van ‘n nuwe samewerkingsooreenkoms. Die minister van Polisie Senzo Mchunu, die Stad Kaapstad, en die Wes-Kaapse regering, insluitend gemeenskaps-organisasies, het ooreengekom om die teenwoordigheid van wetstoepassing in die provinsie te verhoog. In sy toespraak by die ondertekening van die ooreenkoms in Belhar het Ramaphosa gesê die plan sal Operasie Shanela uitbrei, en teiken dwelm- en bende-bedrywighede:
Intussen sê ActionSA die effense afname in die moordkoers, van 73 tot 69 per dag, is skrale troos omdat geweld teen vroue en kinders voortduur. Met byna drie moorde elke uur, en 966 vroue en 314 kinders wat in die eerste kwartaal van 2024/2025 vermoor is, bly die syfers diep kommerwekkend. Dereleen James van ActionSA vra die herinstelling van gespesialiseerde eenhede en ‘n fokus op die sosio-ekonomiese redes vir misdaad om openbare veiligheid en vertroue te herstel:
# Die Taliban regering se ministerie van Moraliteit sê hy sal nie saamwerk met die Verenigde Nasies se sending in Afghanistan nie. Die aankondiging volg nadat die VN-sending gewaarsku het ‘n nuwe moraliteitswet, wat vereis dat vroue hulleself heeltemal bedek en nie hul stemme mag verhef nie, skaad vooruitsigte vir skakeling met die internasionale gemeenskap. Die ministerie sê hulle wil hê internasionale organisasies, lande en die individue wat die wet kritiseer moet die godsdienswaardes van Moslems respekteer en ophou met sulke kritiek en verklarings wat Islamitiese waardes en heilighede beledig.
# Die SABC en SuperSport het ‘n ooreenkoms bereik oor ‘n eenmalige vennootskap om gesamentlik vandag se Rugby Kampioenskapstoets tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland regstreeks op televisie uit te saai. Die aankondiging is gisteraand gedoen en beteken die wedstryd sal nie net op betaalkanaal-televisie nie uitgesaai word nie, maar ook op SABC2, die SABC Sports-kanaal en die SABC se radiostasies. Die vennootskap beteken die SABC sal vir die eerste keer sedert die 1995 Rugby Wêreldbekereindstryd ‘n toets tussen die Springbokke en die All Blacks regstreeks uitsaai. Die 1995-wedstryd was ook op Ellispark.
En ten slotte, op die veld is daar vanmiddag in die Rugby Kampioenskapsbotsing op Ellispark baie meer vir die Springbokke op die spel as net ‘n oorwinning oor hulle aartsvyande die All Blacks. Die wêreldkampioene sal die nommer-een posisie moet prysgee sou hulle verloor, terwyl Nieu-Seeland hulle kan verbysteek. As die Kiwi’s met meer as 15 punte wen, sal hulle ‘n tree nader wees aan die herowering van die topposisie vir die eerste keer sedert November 2021. Ierland sal dan eerste wees, en Suid-Afrika derde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….