Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi doen ‘n beroep vir optrede teen die ontstellende misdaadsyfers
# AfriForum waarsku teen voortydige NVG-regulasies
# En, rugby: Ben-Jason Dixon maak opgang
# RISE Mzansi se koukus-sweep in die Nasionale Vergadering, Maashule Gana, het sy diepe kommer uitgespreek oor die jongste kwartaallikse misdaadstatistieke. Die party sê die syfers onthul die onstellende geweldsmisdade in die land, veral teen vroue. Daar word daagliks gemiddeld 68 mense in die land vermoor en 102 verkragtings aangemeld. Gana doen ‘n beroep vir dringende optrede, onder meer om die moordsyfer te halveer. Hy het ook RISE Mzansi se steun toegesê aan die minister van Polisie, Senso Mchunu, se pogings om ‘n veiliger Suid-Afrika te skep:
# AfriForum maan teen die publisering van regulasies ingevolge die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering. Die organisasie wys op kommer, insluitende die hangende proklamering van die wet, deurlopende grondwetlike uitdagings en die belangrikheid van openbare raadpleging. AfriForum se veldtogbestuurder, Louis Boshoff, glo die regulasies is voortydig en kan omgekeer word indien die wet ongrondwetlik verklaar word:
# Dear South Africa sê die perdebedryf in die land staan die afgelope vyf tot sewe jaar voor ‘n groeiende krisis aangesien die tekort aan entstof vir Afrika-perdesiekte steeds perde-eienaars raak, asook telers en die breër perdegemeenskap. Die woordvoerder van DearSA, Nolu Maki, sê die organisasie het met ‘n openbare meningspeiling begin om noodsaaklike insigte te versamel by diegene wat regstreeks deur die tekort geraak word. Volgens haar was daar ‘n deurbraak toe die eerste besending perde in 14 jaar uit Suid-Afrika na die Europese onlangs afgehandel is met ‘n groep van 32 perde.
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Ben-Jason Dixon is besig om opgang te maak en staan voor die grootste uitdaging van sy kort internasionale loopbaan tot dusver. Dit sal die 26-jarige se vierde keer toets wees wanneer hy môre in Suid-Afrika se opdrafspan is in die Rugbykampioenskaps-kragmeting met Nieu-Seeland op Ellispark. Dixon sê dit is ‘n droom wat bewaarheid is om vir die Bokke teen die All Blacks te speel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-456-dollar-82-sent. Die prys van goud is twee-duisend-516-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-33-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse miljardêr en voorsitter van Richemont, Johann Rupert, is nou die rykste man in Afrika en 147ste in die wêreld. Volgens Bloomberg se jongste miljardêr-aanwyser het Rupert se netto waarde tot 270-miljard geklim terwyl die Nigeriese nyweraar, Aliko Dangote, se fortuin tot 253-miljard-rand gekrimp het. Richemont is in Switserland gebaseer en die maatskappy is bekend vir sy gesogte handelsmerke soos Jaeger-LeCoultre en Cartier. Die Suid-Afrikaner Nicky Oppenheimer is die derde rykste persoon op die vasteland.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….