Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Outomobiel-Assosiasie verwag nog ‘n brandstofprysverlaging in September
# Die Cradock Vier-geregtelike ondersoek word tot volgende week uitgestel
# En, tennis: Die eerste tweederonde Grand Slam-vertrek vir Carlos Alcaraz sedert 2021
# Die Outomobiel-Assosiasie sê alle brandstofpryse sal in September verlaag word vir die vierde agtereenvolgende maand. Woordvoerder Eleanor Mavimbela sê ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds toon die prys van 95-oktaan petrol sal met ongeveer 94-sent per liter daal, en 93-oktaan s’n met ongeveer 86-sent per liter. Sy sê die groothandelprys van diesel sal sowat 76-sent per liter daal en lampolie met bykans 1-rand-een-sent per liter:
# Die langverwagte heropening van die ondersoek na die moorde op die anti-apartheid-aktiviste, die Cradock Vier, in 1985, sal na verwagting volgende week in die Hooggeregshof in Gqeberha begin. Die vertraging spruit voort uit die regspanne van voormalige polisie- en Leër-getuies wat sê hulle het nie genoeg tyd gehad om voor te berei nie, en ook ‘n gebrek aan staatsbefondsing. Die naasbestaandes wat amper 40 jaar later geregtigheid wil laat geskied, sê hulle is gefrustreer met nog ‘n terugslag in die saak.
# Die Stad Johannesburg se Departement vir Omgewings- en Infrastruktuurdienste het ‘n verenigde forum voorgestel om onwettige mynbedrywighede teen te werk. Die departement se verteenwoordiger, Cleopatra Mputle, meen daar is ‘n behoefte aan ‘n volledige beleid teen onwettige mynwese, waarby interne en eksterne rolspelers betrokke is. Die idee is gemik op aandag aan infrastruktuurskade en die finansiële las wat veroorsaak word deur onwettige mynbedrywighede, met die kollig op wetstoepassing, die sluiting van myne en rehabilitasiepogings.
# Tennis: Carlos Alcaraz se vroeë vertrek uit die Amerikaanse Ope is sy eerste nederlaag in die tweede ronde van ‘n Grand Slam-toernooi sedert Wimbledon in 2021, toe hy nog 75ste in die wêreld was. Die wêreld nommer drie het in skoon stelle teen die onbesonge Nederlander Botic van de Zandschulp verloor op Flushing Meadows. Die Spanjaard is as een van die gunstelinge beskou nadat hy vanjaar die Franse Ope en Wimbledon ingepalm het, maar kon nie sy voete vind in die Arthur Ashe-stadion nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-474-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-519-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-4-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Peiling van die Mededingingskommissie benadruk dat hoewel Suid-Afrika se hernubare energieproduktemark mededingend is, bly bekostigbaarheid ‘n hindernis – veral vir klein en medium ondernemings. Ondanks die toenemende vraag van 2021 tot 2023, vind 60-persent van verbruikers dat pryse onbekostigbaar is, en 45-persent van sake-ondernemings sê hoë koste is ‘n probleem. Sonkragpanele is die minste toeganklik, met klein ondernemings wat sukkel om dit te bekostig. Die opname dring aan op verbeterde finansieringskeuses en aansporings om toegang te verbeter en die sektor se groei te ondersteun.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….