Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 Augustus 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met atletiek: Udeme Okon van Suid-Afrika het die goue medalje opgeraap in die mans-400 meter op Wêreldatletiek se Onder 20-kampioenskap in Lima, Peru. Die 19-jarige atleet het die Amerikaners Jayden Davis en Sidi Njie in 45,69-sekondes gewen. Nog ‘n Suid-Afrikaner, Bayanda Walaza, wat reeds goud gewen het in die 100-meter, het die vinnigste tyd van 21-sekondes aangebied in sy halfeind van die 200-meter en deurgedring na die eindronde. Sy landgenoot, Temoso Masikane, ding vandag mee in die mans-verspring-eindronde.
# Vervolgens, rugby: Die Springbokslot Eben Etzebeth kruip al nader aan Victor Matfield se algehele rekord van 127 toetse. Etzebeth en Bryan Habana is tans saam tweede met 124 toetse, en Etzebeth hoop om die rekord aan die einde van die huidige Rugbykampioenskap te verbeter. ‘n Ligte kniebesering het amper sy planne tot die einde van die jaar uitgestel, maar hy het betyds herstel om môre op Ellispark teen die All Blacks te speel. Die 32-jarige Etzebeth het in 2012 sy buiging vir Suid-Afrika gemaak.
Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika en die Gautrein-bestuursagentskap sê intussen hulle is gereed om môre ondersteuners na Ellispark te vervoer. Rugby-ondersteuners kan met die Gautrein na Parkstasie reis en dan deur Prasa se pas opgeknapte Parkstasie-sentrum stap om ʼn trein na die wedstryd te haal. Prasa se woordvoerder, Andiswa Makanda, sê hulle wil veilige vervoer vir ondersteuners verseker:
# Tennis: Die Nederlander Botic van de Zandschulp het die kampioen van Roland Garros en Wimbledon, Carlos Alcaraz, in die tweede ronde van die Amerikaanse Ope uitgeskakel. Die wêreld-nommer-74 het die wêreld-nommer-drie in skoon stelle verslaan en die Spanjaard se droom van ‘n derde agtereenvolgende Grand Slam-titel verpletter. Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, het sy 50ste oorwinning van die seisoen behaal deur die Amerikaner Alex Michelsen te klop. In die vroueafdeling het die eerste gekeurde Iga Swiatek van Pole die Japanner Ena Shibahara maklik verslaan.
# Nou nuus oor die Paralimpiese Spele: Kommer oor die Seinerivier se watergehalte ná stormagtige weer, het veranderinge genoodsaak aan die swem-afdeling van die Paralimpiese driekamp in Parys. Die swemafdeling sal nou op Sondag plaasvind en nie oor twee dae strek nie. Tydens die Olimpiese Spele is driekamp-items en -oefengeleenthede ook geherskeduleer omdat stormagtige weer ʼn skerp styging in bakterie-vlakke veroorsaak het. Die organiseerders sê die besluit gee atlete en afrigters die grootste sekerheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….