Nuus 08:00
BULLETIN 30 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana waarsku teen die oorhaastige onttrekking van pensioenfondse
# Ramaphosa sê sy belofte om een miljoen huise in Alexandra te bou is verkeerd verstaan
# En Kamala Harris sê haar waardes het nie verander nie ten spyte van veranderde beleid
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, waarsku teen oorhaastige onttrekking uit pensioenfondse as deel van die tweepotstelsel wat op 1 September in werking tree. Die stelsel gee aftreefondslede toegang tot hulle spaargeld sonder om te bedank of al hulle spaargeld uit die pensioenfonds te onttrek. Godongwana sê hy is nie gesteurd oor diegene wat kla oor die belasting wat hulle op die onttrekkings moet betaal nie:
# Die parlement se portefeuljekomitee oor Gesondheid het die belangrikheid benadruk om te verseker dat die instelling van Nasionale Gesondheidsversekering nie lei tot verdere monopolisering van gesondheidsorgdienste nie. Die Mededingskommissie het die komitee ingelig oor sy Markondersoekverslag oor Gesondheid wat die stand van mededinging in die Suid-Afrikaanse gesondheidsorgsektor ondersoek. Die komitee sê die rol van die privaat sektor binne die NGV-raamwerk is belangrik, maar daar moet ‘n balans tussen die bydraes van die privaat gesondheidsdiensverskaffers wees terwyl ‘n lewenskragtige openbare gesondheidsdiens behou word.
# President Cyril Ramaphosa het om verskoning gevra vir die mense van die Alexandra-township in Gauteng vir die indruk wat hy in 2019 geskep het dat sy regering een-miljoen huise vir hulle sou bou. Die president het tydens sy vraag- en antwoordsessie gister in die Parlement gesê hy het na Suid-Afrika in die geheel verwys om een-miljoen huise te bou. Ramaphosa sê 40-duisend huise word vir Alexandra-inwoners gebou en die meer kwesbares sal eerste na die Frankenwald en Linksfield gebiede verskuif word:
# Amerika se visepresident Kamala Harris sê as sy president word, sal sy op haar eerste dag begin om talle van haar beleidsvoorstelle in te stel om die middelklas te ondersteun en te versterk. Sy het haar eerste onderhoud sedert haar benoeming as die Demokrate se presidentskandidaat, met CNN gehad. Haar visepresidentskandidaat, Tim Walz, was ook by. Harris sê haar beleid oor hidrobreking en die dekriminalisering van onwettige immigrante het nie verander nie:
# Paralimpiese Spele: Kommer oor die Seinerivier se watergehalte ná stormagtige weer, het veranderinge genoodsaak aan die swem-afdeling van die Paralimpiese driekamp-item in Parys. Die swemafdeling sal nou op Sondag plaasvind en nie oor twee dae strek nie. Tydens die Olimpiese Spele is driekamp-items en -oefensessies ook herskeduleer omdat stormagtige weerstoestande ‘n skerp styging in bakterie-vlakke veroorsaak het. Organiseerders sê die besluit gee atlete en afrigters die grootste sekerheid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-108-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-513-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….