Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA daag die wantrouemosies teen Tshwane se burgemeester in die hof uit
# Drie mense sterf in ‘n tifoon in Japan
# En, krieket: Die oud-veelsydige speler Jacob Oram is aangestel as Nieu-Seeland se nuwe boul-afrigter
# Die DA het ‘n dringende aansoek by die Gautengse Hooggeregshof ingedien om twee wantrouemosies teen die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, onwettig verklaar te kry. Die party betoog die mosies, saam met die speaker se goedkeuring daarvan, is ongrondwetlik. Die VF Plus en die IVP het vroeër hulle toewyding bevestig aan die DA-geleide koalisie in Tshwane, maar die standpunt van ActionSA is nog onduidelik. Intussen het die ANC in die raad ‘n koukusvergadering met hulle regspan aangevra na die ontvangs van die hofdokumente.
# Staatsaanklaer Billy Downer het die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, aangemoedig om voort te gaan met die geskeduleerde wapentransaksie-verhoordatums, ondanks oudpresident Jacob Zuma se voortgesette poging om hom te verwyder. Zuma se regspan het onlangs probeer appelleer teen regter Nkosinathi Chili se weiering om Downer te verwyder, en eis redes vir die regter se besluit. Downer betoog die verhoor moet soos beplan in April volgende jaar voortgesit word:
# Mpumalanga se Onderwysdepartement inspekteer 71 skole om die vordering te bepaal met die projek van 18-miljoen-rand om puttoilette uit te roei. Vordering sloer ondanks die Departement van Basiese Ondewys se belofte dat hierdie toilette teen volgende jaar nie meer sal bestaan nie. Die LUR vir Onderwys, Cathrine Dlamini, het aan die SABC beklemtoon dit is ‘n menseregtekwessie, met planne om puttoilette teen die einde van dié boekjaar uit te skakel:
# Minstens drie mense is dood nadat ‘n tifoon die suide van Japan getref en vrese laat ontstaan het vir oorstromings, grondstortings en uitgebreide skade aan geboue. Nog ‘n persoon word vermis, en talle is beseer nadat Tifoon Shanshan die eiland Kyshu getref en deur verskeie streke getier het. Die owerhede het ontruimingsopdragte uitgereik vir miljoene inwoners weens stortreën en sterk wind van tot 180-kilometer per uur. Shanshan is die jongste weerstelsel wat Japan tref. Tifoon Ampil het vroeër die maand kragonderbrekings en ontruimings veroorsaak.
# Krieket: Die gewese veelsydige Nieu-Seelandse speler Jacob Oram is van die begin van Oktober af aangestel as die land se boul-afrigter. Hy vervang Shane Jurgensen, wat weg is na verlede jaar se eendag-Wêreldbekertoernooi. Die 46-jarige Oram het vir meer as elf jaar vir die Swart Pette gespeel in 33 toetse, 160 eendagwedstryde en 36 T20s. Hy het vier-duisend-688 lopies aangeteken en altesaam 252 paaltjies platgetrek. Hy sê dit beteken vir hom baie om terug te wees by die span wat ‘n groot deel van sy lewe was en beskryf die aanstelling as ‘n eer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-789-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-522-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….