Nuus 11:00
Bulletin Inhoud
BULLETIN 29 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party het vertroue in Mzwanele Manyi as hoofsweep
# Solidariteit wil hê die Inligtingsreguleerder moet by die Regspraktykraad ingryp
# En rugby: Die All Black-kaptein Scott Barrett keer terug teen die Springbokke
# Die MK-party het Mzwanele Manyi as sy hoofsweep aangestel om Sihle Ngubane te vervang. Manyi het vroeër die maand uit die EFF bedank nadat hy in Junie as ‘n parlementslid ingehuldig is. MK sê Manyi bring wye uitvoerende ervaring na die administratiewe en terselfdertyd politieke rol, want hy het in die regering gedien as ‘n direkteur-generaal en was ‘n bestuurshoof in die privaat sektor. Die party sê sy leierskap sal MK se verbintenis verder versterk om die mense van die land met toegewydheid en integriteit te dien.
# Solidariteit se Regsnetwerk het ‘n klagte ingedien by die Inligtingsreguleerder teen die Regspraktykraad omdat inligting nie onthul is oor sy besluit om Afrikaans as ‘n eksamenvak te verwyder nie. Die netwerk beskuldig die raad dat hy nie reageer het op ‘n versoek kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting nie. Émil Glas van Solidariteit sê hulle herhaalde pogings om in verbinding te tree en duidelikheid te kry oor die raad se besluitnemingsproses, is geïgnoreer:
# Die Referendum-party sê hy is woedend omdat daar van een Januarie af minder onderwysers in die Wes-Kaap gaan wees. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement se begroting oor die volgende drie jaar sal ‘n tekort van 3,8-miljard-rand hê en hy sal onderwysposte met twee-duisend-407 moet besnoei. Die partyleier, Phil Craig, sê hierdie besnoeiings is veroorsaak deur een-miljard-rand wat van die onderwys- en gesondheidsbegrotings weggeneem is om wetstoepassing te befonds eerder as om beheer te neem oor die Polisiediens:
# Die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram het die beweging van personeel in die Gaza-strook tydelik gestaak. Dit volg nadat daar naby ʼn Israelse beheerpunt op sy span geskiet is wat in twee van sy pantservoertuie ʼn konvooi vragmotors met humanitêre hulp vergesel het. ʼn VN-woordvoerder, Stephane Dujarric, sê die voorval beklemtoon hoe ruimte vir humanitêre hulp in Gaza minder word en toenemende geweld noodsaaklike hulpverlening belemmer:
# Rugby: Nieu-Seeland se hoofafrigter, Scott Robertson, het twee veranderinge aangebring aan sy beginspan vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen Suid-Afrika op Ellispark. Kaptein Scott Barrett, wat weens ʼn vingerbesering op die kantlyn was, vervang Sam Darry terwyl oudkaptein Sam Cane in Dalton Papali’i se plek sal opdraf. Dit sal Cane se 97ste toets wees. Robertson sê een van die grootste uitdagings waarvoor hulle kan voorberei, is ʼn kragmeting teen die Springbokke op Ellispark en hulle sal die beste maak van die geleentheid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-630-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-516-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….