Nuus 07:00
BULLETIN 29 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Justisie is bereid om vrae te beantwoord
# Meer as 300 staatsgeboue is gekaap
# En atletiek: Bayanda Walaza is die Wêreld O-20 100m-kampioen
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, het aan parlementslede gesê sy sal enige vrae oor die VBS Bank-bewerings teen haar beantwoord. Die minister het volgens gerigte ‘n lening van meer as ʼn halfmiljoen-rand aangegaan deur ʼn maatskappy wat as makelaar onregmatige beleggings van 349-miljoen-rand by VBS hanteer het terwyl sy in 2016 burgemeester van Polokwane was. President Cyril Ramaphosa het Simelane gevra vir ʼn gedetailleerde verslag oor die bewerings. Die minister sê sy is ook gewillig om saam met die Openbare Beskermer te werk.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean MacPherson, het onthul 338 staatsgeboue is landwyd gekaap. Die eiendomme word onwettig beset en beïnvloed die regering se werksaamhede en openbare dienste. ‘n Gebou in eThekwini, KwaZulu-Natal, is onlangs suksesvol teruggeneem. MacPherson het aan die media gesê sy departement werk daaraan om die geboue terug te neem, verdere kapings te verhoed en staatsbates te beskerm:
# AfriForum het sy oproep op ‘n vennootskap herhaal om Suid-Afrika se watersektor te bestuur ten einde die gapings oor water- en rioolbehandeling aan te spreek deur kundiges op te lei, veral in landelike gebiede. Hoewel daar nog geen formele reaksie van die adjunkpresident, Paul Mashatile, was nie, verwelkom Lambert de Klerk van AfriForum die regering se standpunt oor die voortslepende waterkrisis deur ‘n openbare-privaat vennootskapsmodel op te rig:
# Die EFF in Gauteng dring aan dat die verslag oor die Stad Ekurhuleni se polisiehoof, Isaac Mapiyeye, se vermeende wangedrag onmiddellik bekendgemaak word. Hy het volgens berigte ʼn hoogs swanger veiligheidswag aangerand en haar oortuig om die aanrandingsklagte teen hom te laat vaar. Dumisani Baleni van die EFF sê hierdie bewerings is ernstig en moet dringend hanteer word:
# Amerika se Departement van Buitelandse Sake het sanksies ingestel teen ekstremistiese inwoners van die Wesoewer wat deur die Israelse regering befonds word. Die groep, Hashomer Yosh, voorsien sekuriteit aan buiteposte waarvan sommige reeds Amerikaanse sanksies teen hulle het. Die departement het ook sanksies ingestel teen Yitzhak Levi Filant, die sameroeper van burgerlike sekuriteit in die Yitzhar-nedersetting in die Wesoewer. Die departement sê hy sal voortgaan met optrede om diegene in die Wesoewer wat geweld pleeg en ondersteun aanspreeklik te hou.
# Atletiek: Suid-Afrika se Olimpiese medaljewenner, Bayanda Walaza, het goud gewen in die mans se 100-meterfinaal by Wêreld-atletiek se Onder 20-kampioenskap in Lima, Peru. Die 18-jarige atleet het die afstand in 10,19 sekondes afgelê. Puripol Boonson van Thailand spog met silwer en Walaza se landgenoot, Bradley Nkoana, met brons. Walaza en Nkoana het vroeër die maand silwer medaljes gekry in die aflos-item by die Olimpiese Spele in Parys. Intussen het nog ʼn Suid-Afrikaner, Johannes Morepe, sy plek in die mans se een-duisend-500-meter-finaal bespreek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-57-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-512-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….