Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA heroorweeg sy koalisieposisie in Tshwane
# Cosatu eis dringende optrede om die agteruitgang in plaaslike regering te stuit
# En, rugby: Eben Etzebeth is terug vir die Bokke vir die eerste toets teen die All Blacks
# ActionSA herbeoordeel sy rol in Tshwane se veelparty-koalisie in ooreenstemming met sy voorkeure soos om poste binne die stadsregering te behou en die vernuwing van die stadskern. Die Gautengse voorsitter, Funzi Ngobeni, kritiseer die DA vir wat hy beskou as ‘n oneerlike veldtog, wat samewerking in die koalisie ondermyn. Dit volg op ‘n DA-geleide nuuskonferensie voor môre se wantrouemosie teen die burgemeester, Cilliers Brink. Ngobeni beklemtoon ActionSA se toewyding tot volwasse, formele skakeling, eerder as steun vir wat hy beskryf as ‘n kinderagtige benadering.
Die Vryheidsfront Plus het intussen sy verbintenis tot die koalisie in die Stad Tshwane herbevestig ondanks die ANC se pogings om ontslae te raak van Brink. Grandi Theunissen van die VF Plus, wat die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid is, sê sy party sal steeds die burgemeester steun, met geen berigte van oorlopery binne die koalisie nie:
# Cosatu eis dringende optrede deur die nasionale en provinsiale regering om die agteruitgang op plaaslike regeringsvlak te stop. Matthew Parks van Cosatu sê die jongste verslag van ouditeur-generaal Tsakani Maluleke oor die toestand van plaaslike regering is ontstellend en teneerdrukkend, en skets ‘n kommerwekkende beeld van die finansiële agteruitgang in ‘n toenemende aantal munisipaliteite:
# Rugby: Eben Etzebeth is terug in die Springbok-groep vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks op Ellispark. Hy vervang Marco van Staden op die bank, terwyl Pieter-Steph du Toit en Ruan Nortjé die slotpaar is in die opdrafspan. Afrigter Rassie Erasmus het Steven Kitshoff, Manie Libbok, Canan Moodie en Makazole Mapimpi vrygestel om hierdie naweek Curriebekerrugby te speel. Etzebeth wil graag die rekord van 128 toetse gedurende die kampioenskap syne maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-75-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-499-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-34-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Seereddingsinstituut het ‘n veiligheidswaarskuwing uitgereik met rowwe seetoestande en gure weer wat die kuslyn van die Noord- en die Wes-Kaap teister. ‘n Oranje vlak ses waarskuwing is van krag, met swaar reën, sterk wind en gevaarlike deinings wat verwag word. Die gevaarlike toestande sal tot die naweek voortduur. Die NSRI se woordvoerder, Craig Lambinon, vra uiterste versigtigheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….