Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verenigde Nasies waarsku oor giftige besoedeling in Suid-Afrika weens korporatiewe gierigheid en versuim deur die regering
# Die minister van Vervoer eis onmiddellike optrede teen vlugvertragings
# En, rugby: Eben Etzebeth is steeds ‘n moontlikheid vir die eerste toets teen die All Blacks
# Suid-Afrika se mense en omgewing is twee van die land se kosbaarste bates, maar moet beskerm word teen giftige besoedeling, aangevuur deur korporatiewe gierigheid en die regering se gebrek aan optrede. Dié bevinding is vervat in ‘n verslag deur die Verenigde Nasies se spesiale verslaggewer oor gifstowwe en menseregte, Marcos Orellana. Dit fokus onder meer op lugbesoedeling, billike energie-oordrag, mynbedrywighede en afvalbestuur. Hy sê die regering moet ophou om lisensies uit te reik vir nuwe kweekhuisgas-intensiewe projekte, en infrastruktuur skep vir nuwe afvalstrome van hernubare energie-tegnologie.
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, moedig lugvaartowerhede aan om op te tree teen voortgesette vlugvertragings. Sy het op ‘n onlangse vergadering met Lugverkeersdienste, die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika, en die Burgerlike Lugvaartowerheid, gevra vir ‘n volledige plan met ‘n begroting teen voortgesette vlugvertragings, terwyl veiligheid gewaarborg word. Die plan moet binne twee weke ingedien word. Collen Msibi van die departement het reisigers om verskoning gevra en die versekering gegee pogings word aangewend om die vertragings op te los:
# Die hoof van die Presidensie se projekbestuurskantoor, Rudi Dicks, sê die regering se doelwit is om spoorvervoer se markaandeel te vergroot en meer goedere, insluitend landbouprodukte, per spoor eerder as per pad te vervoer. Suid-Afrika het tussen 2021 en verlede jaar altesaam 140-miljard-rand aan inkomste uit steenkool- en ystererts-uitvoere verloor. Dick sê Transnet se finansiële en struktuurprobleme het ‘n aansienlike afname in spoorvervoer se vermoë en doeltreffendheid tot gevolg gehad. Hy sê die vraglogistiek-padkaart sit duidelike stappe uiteen om die onmiddellike uitdagings te hanteer.
# Die Stad Kaapstad het ʼn nuwe Kies Kaapstad-handelsmerkveldtog by die Kaapstadse Internasionale Lughawe bekendgestel wat die weg baan vir ʼn reis-bemarkingsveldtog. Die aantal internasionale vlugte het tussen Januarie en Julie vanjaar met elf-persent gestyg teenoor dieselfde tydperk verlede jaar. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die veldtog is deel van die vyfpunt-aksieplan, naamlik om vlugte uit te brei, bootvaarte te bevorder, konferensies te lok, toerisme te vertak en gefokusde bemarking te doen:
# Rugby: Eben Etzebeth kan steeds Saterdag in die Rugbykampioenskapstoets vir die Springbokke teen die All Blacks op Ellispark speel al is hy weens ‘n seer knie uit die wedstrydgroep gelaat. Pieter-Steph du Toit is op nommer 4 gekies en sal saam met Ruan Nortjé die slotpaar vorm. Hoofafrigter Rassie Erasmus sê egter Etzebeth, ‘n veteraan van 124 toetse, kan dalk ingesluit word in die plek van een van die plaasvervanger-losvoorspelers, Kwagga Smith, Marco van Staden en Elrigh Louw.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-849-dollar-63-sent. Die prys van goud is twee-duisend-507-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….