Nuus 09:00
BULLETIN 28 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SKOOR praat met belanghebbendes oor die Spesiale Ondersoekeenheid se befondsingsmodel
# AfriForum sluit aan by openbare beraadslaging oor Eskom se voorgestelde verhoging
# En tennis: Stefanos Tsitsipas en Emma Raducanu word by die Amerikaanse Ope uitgeskakel
# Die parlementêre staande komitee oor Openbare Rekeninge gaan met rolspelers beraadslaag oor die Spesiale Ondersoekeenheid se befondsingsmodel. Munisipaliteite, staatsinstellings, en nasionale en provinsiale departemente skuld die eenheid meer as ‘n miljard-rand. Die komitee-voorsitter Songezo Zibi sê volgens die huidige model voorsien die Nasionale Tesourie 40-persent van die fondse, terwyl 60-persent ingevorder moet word deur fakture te stuur aan die instellings wat ondersoek word:
# AfriForum gaan aansluit by die openbare beraadslagingsproses om Eskom se voorgestelde tariefstyging van 36-persent te stuit. Die burgerregte-organisasie waarsku hy sal regstappe neem indien NERSA die styging goedkeur. NERSA het Eskom se aansoek vir tariefverhogings vir 2025 tot 2028 ontvang met openbare insette en reguleringshersiening wat volg. Woordvoerder vir AfriForum, Morné Mostert, sê die organisasie onderneem om verbruikers teen onbillike tariefverhogings te beskerm.
# Die Wes-Kaapse provinsiale regering verwelkom die ouditeur-generaal se gekonsolideerde algemene verslag oor plaaslike regering se oudit-uitkomste vir 2022/2023. Volgens die verslag het 20 munisipaliteite in die provinsie ʼn ongekwalifiseerde oudit sonder bevindings gekry, terwyl ses ongekwalifiseerde oudits met bevindings behaal het. Die LUR vir Finansies en Plaaslike Regering, Deidré Baartman, sê daar is egter werk wat gedoen moet word om goeie finansiële bestuur te verseker sodat dienslewering in plaaslike regerings kan verbeter:
# Spanje gaan 500-duisend A-pokke-inentings skenk aan lande in Sentraal-Afrika wat ‘n styging in gevalle ervaar. Die gesondheidsministerie in Spanje sê die dosisse is sowat 20-persent van Spanje se totale voorraad A-pokke-inentings. Spanje het ook die Europese Unie versoek om hulle voorbeeld te volg en om ook 20-persent van hulle voorraad A-pokke-inentings te skenk en sê dit is onsinnig om inentings op te gaar wanneer daar nie ‘n probleem is nie. Frankryk en Duitsland het aangekondig hulle sal elkeen 100-duisend dosisse A-pokke-inentings skenk aan die lande wat weens die siekte swaarkry.
# Tennis: Die wêreld se voorste speler, Jannik Sinner van Italië, het herstel van een stel agter om die Amerikaner Mackenzie McDonald, 2-6, 6-2, 6-1, 6-2, te klop en na die tweede ronde van die Amerikaanse Ope deur te dring. Carlos Alcaraz van Spanje het sy 60ste major-oorwinning behaal toe hy die Australiese kwalifiseerder Li Tu, 6-2, 4-6, 6-3, 6-1 geklop het. Stefanos Tsitsipas is vir die sewende jaar agtereenvolgens vroeg uitgeskakel toe hy die knie teen Australië se Thanasi Kokkinakis moes buig. In die vroue-afdeling het die voormalige kampioen, Emma Raducanu van Brittanje met 6-1, 3-6, 6-4, teen die Amerikaner Sofia Kenin verloor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-558-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-514-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….