Nuus 06:00
BULLETIN 28 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile dring aan op beter regeringsamewerking
# ’n Israelse gyselaar is in die suide van Gaza gered
# En Paralimpiese Spele: Kat Swanepoel en Mpumelelo Mhlongo sal die vlag vir Span SA dra
# Adjunkpresident Paul Mashatile het die Nasionale Raad van Provinsies gevra om die uitvoerende gesag se aanspreeklikheid te verbeter deur samewerking aan te moedig tussen die drie vlakke van regering. Hy was die hoofspreker op die drie-vlak beplanningsessie en het die behoefte beklemtoon aan verenigde beplanning en implementering om armoede en ongelykheid aan te pak. Mashatile vra openbare deelname aan beleidmaking en om die uitvoerende gesag voor die parlement aanspreeklik te hou:
# President Cyril Ramaphosa het ‘n nuwe wet onderteken om Suid-Afrika se watersekerheid te verbeter met die vestiging van die Nasionale Agentskap vir Waterhulpbron-infrastruktuur. Hierdie agentskap sal daarop fokus om die land se waterinfrastruktuur uit te brei en te bestuur, huidige probleme aan te spreek en privaat beleggings te lok. Die wetgewing is deel van breër hervormings met Operasie Vulindlela, ‘n gesamentlike inisiatief tussen die Presidensie en die Nasionale Tesourie, wat fokus op die modernisering van kritiese sektore soos water, elektrisiteit en vervoer.
# Oudpresident Jacob Zuma se wapentransaksie-korrupsiesaak word môre weer in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg aangehoor; 20 jaar nadat hy die eerste keer aangekla is. Die 81-jarige Zuma en die Franse wapenverskaffer Thales word aangekla van onder meer bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery, wat spruit uit die land se multi-miljard-rand wapenverkrygingstransaksie van die 1990’s. Die Nasionale Vervolgingsgesag sê hulle is gereed om die verhoor voort te sit, maar kan nooit die moontlikheid uitskakel dat Zuma weereens sal appelleer om sy hofverskyning te vertraag nie.
# Inwoners van Tshwane word gewaarsku om voor te berei vir moontlike wateronderbrekings met Rand Water wat sy grootmaat-meters dringend opgradeer. Die instandhouding is geskeduleer van vandag af tot Maandag tussen agt-uur soggens en een-uur in die middag en sal verskillende gebiede op verskillende dae raak. Rand Water sal waar moontlik reservoirs opvul vóór die werk begin. ‘n Woordvoerder van die Stad Tshwane, Lindela Mashigo, vra inwoners om water spaarsamig te gebruik om ongerief te beperk:
# ‘n Israelse gyselaar, Qaid Farhan Alkadi, is gered in ‘n gesamentlike optrede deur die Israelse Weermag en Shin Bet in die suidelike Gaza-strook. Die 52-jarige, wat 326 dae in aanhouding deurgebring het, is tydens verlede jaar se sewende Oktober-aanval op Israel deur Hamas ontvoer. Alkadi is die agtste gyselaar wat deur Israelse magte gered is sedert die begin van die oorlog in Gaza. Hy is in ‘n stabiele toestand in ‘n hospitaal. Die Israelse eerste minister Benjamin Netanyahu sê hulle werk meedoënloos om al die gyselaars te bevry deur middel van onderhandelinge en reddingsoptredes.
# Paralimpiese Spele: Swemmer Kat Swanepoel en naelloper Mpumelelo Mhlongo dra vanaand die vlag vir Span Suid-Afrika tydens die openingseremonie in Parys. Albei is moontlike medaljewenners. Swanepoel het verlede jaar goud en silwer gewen by die Wêreld Para-Swemkampioenskappe in Manchester. Die Spele het tydens die Olimpiese Spele in Londen in 1948 as ‘n informele byeenkoms vir veterane van die Tweede Wêreldoorlog begin en het gegroei tot een van die grootste sportbyeenkomste ter wêreld. Die openingseremonie sluit ‘n parade op die wêreldberoemde Champs-Élysées in.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-582-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-525-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….