Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Statistieke SA sê 2,6 miljoen huishoudings is die afgelope vyf jaar deur inbrake getref
# Die Departement van Justisie slaan toe op wanoptrede en dank 27 amptenare af
# En, sokker: ‘n Vakbond stel ‘n gids bekend om vrouespelers te help om swangerskap en loopbane te bestuur
# Statistieke Suid-Afrika het onthul 2,6-miljoen huishoudings het die afgelope vyf jaar ‘n huisinbraak beleef, wat ‘n styging van 12-persent is van 2,3-miljoen. Statistikus-generaal Risenga Maluleke het in sy 2023/’24 Slagoffers van Misdaad-verslag aangedui dat 459-duisend huishoudings huisrooftogte ervaar het, wat ‘n effense afname van een-persent is. Hy voeg by dat 257-duisend huishoudings tydens dieselfde tydperk aanrandings ondervind het:
# Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het 27 amptenare ontslaan vir verskeie vorms van wanoptrede, waaronder bedrog, diefstal en seksuele teistering. Dit is deel van ‘n breër poging om 81 appèlaansoeke te hanteer wat verband hou met wanoptrede. Onder die aansoeke is 31 opgelos, met 27 afdankings wat bevestig is en vier sanksies wat versag is. Die departement versterk steeds interne beheer en is vasberade om ‘n professionele en deursigtige werksomgewing te handhaaf.
# Die Vereniging vir Staatsamptenare sê die toekoms van personeel van die Departement Openbare Ondernemings is onseker nadat ondernemings in staatsbesit aan verskeie ministeries toegewys is. Eskom is toegewys aan die Ministerie van Elektrisiteit en Energie en die Suid-Afrikaanse Lugdiens is na Vervoer oorgeplaas. ‘n Woordvoerder van die vereniging, Claude Naicker, vra duidelikheid met personeeloorplasings terwyl die Wet op Staatsondernemings gefinaliseer word:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta sê hy is geskok en hoogs ontsteld oor ‘n onlangse foto van twee leerders van die Hoërskool Plumstead in Kaapstad wat op sosiale media versprei is. Die twee is afgeneem met vuurwapens en drank terwyl hulle in skooluniform was. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê die saak word ondersoek en die leerders is tydelik geskors. Makaneta sê die gedrag kan nie by skole geduld word nie:
# Sokker: Die internasionale spelersunie, FIF-PRO, het ‘n gids bekendgestel om vrouespelers, hulle gesinne en spanpersoneel by te staan om swangerskap en hulle loopbane na ‘n geboorte beter te verstaan en te bestuur. FIF-PRO het besef daar is ‘n gebrek aan kennis in die beroepspel omdat vroue se vrugbaarste jare grootliks oorvleuel met hulle beste jare op die sportveld. Woordvoerder Alex Culvin sê daar is ‘n opvatting in alle sportsoorte dat ‘n vrou nie gelyktydig ‘n ma en ‘n atleet kan wees nie. Hy beskryf die gids as ‘n belangrike hulpmiddel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-359-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-508-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….