Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ouditeur-generaal waarsku finansiële wanbestuur en swak dienslewering kniehalter munispaliteite steeds
# Nersa beloof deursigtigheid in die oorweging van Eskom se veeljarige prysbepalingsaansoek
# En, rugby: Jasper Wiese is terug en die Bokke maak nege veranderings vir die All Blacks-kragmeting
# Ouditeur-generaal Tsakani Maluleke waarsku dat finansiële wanbestuur en swak dienslewering munisipaliteite steeds teister. Volgens haar 2022/’23-ouditverslag is talle plaaslike owerhede steeds nie in staat om hulle finansies doeltreffend te bestuur nie, wat lei tot verkwiste hulpbronne, infrastruktuurverwaarlosing, en ‘n afname in inwoners se lewensomstandighede. Die meerderheid munisipaliteite sukkel steeds met die lewering van noodsaaklike dienste soos water, sanitasie en krag. Maluleke het aan die Parlement gesê die regstreekse uitwerking van die mislukkings word weerspieël in die lewens van burgers:
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het bevestig hulle het Eskom se sesde veeljarige prysbepalingsaansoek ontvang. Die aansoek dek die volgende drie finansiële jare. Die aansoek bevat nie besonderhede nie maar ontbondelde tariewe vir opwekking, verspreiding, en transmissie is ingesluit. Nersa onderneem dat alle regulatoriese prosesse, insluitende openbare raadpleging, deursigtig hanteer sal word. Openbare kommentaar sal aangevra word nadat Nersa die voldoening van die aansoek geëvalueer het.
# Die Ramprisikobestuursentrum van die Stad Kaapstad monitor enige moontlike voorvalle wat verband hou met die huidige winterweer. Woordvoerder, Sonica Lategan, sê volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens sal die reën en rukwinde wat oor die metropool ervaar word, môre in die vroeë oggendure begin opklaar. Sy sê die stad se nooddienste is op gereedheid om aandag te gee aan enige probleme wat mag opduik:
# Rugby: Jasper Wiese maak sy eerste verskyning van die seisoen nadat die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, die snoeiskêr ingelê het vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks op Ellispark in Johannesburg. Daar is nege veranderings aan die span wat die Wallabies in Perth verslaan het, maar slegs drie aan die wedstrydgroep wat die reeks teen die Aussies begin het. Wiese is terug na ‘n skorsing terwyl Pieter-Steph du Toit en Ruan Nortjé die slotpaar vorm omdat ses ander slotte beseer is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-428-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-510-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-5-sent per vat.
# En ten slotte: Die lughawe van Istanboel in Turkye het die wêreld se beste netwerk van vlugte volgens nuwe data van die lugvaartontledersmaatskappy, Cirium. Die lughawe bedryf 309 ononderbroke vlugte na bestemmings wêreldwyd, die meeste met die Turkse Lugdiens, wat meer lande as enige ander lugdiens bedien. Dit is ook die sewende besigste lughawe in die wêreld met sowat 90-miljoen passasiers per jaar. Tweede op die lys is die lughawe in Frankfurt, Duitsland, met die Charles de Gaulle-lughawe in Parys derde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….