Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Activists and Citizens Forum sê Ramaphosa moet die minister van Justisie op spesiale verlof plaas
# Niemand is nog in hegtenis geneem nadat ‘n boer in Tshwane vermoor is nie
# En, rugby: Die All Blacks is gereed om die Bokke se verwoede pak aan te durf
# Die Activists and Citizens Forum vra president Cyril Ramaphosa om die minister van Justisie, Thembi Simelani, op spesiale verlof te plaas en ‘n ondersoek na die bewerings teen haar in te stel. Terwyl sy die burgemeester van Polokwane was, het sy glo meer as ‘n half-miljoen-rand van ‘n organisasie ontvang wat ooreenkomste met die VBS Mutual Bank bewerkstellig en tot sy ineenstorting gelei het. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê die bewerings is baie ernstig en Ramaphosa moet die integriteit van die Departement van Justisie beskerm.
# Die polisie in Gauteng het nog niemand in hegtenis geneem nadat ‘n boer Sondag op sy plaas by Groenfontein in Tshwane vermoor is nie. Hy is met vyf steekwonde aangetref en op die toneel dood verklaar. Polisiewoordvoerder Johan van Dyk sê sy besittings van sowat 300-duisend-rand wat gesteel is, sluit ʼn Toyota Hilux-bakkie, ʼn selfoon en ʼn skootrekenaar in. Die gesteelde voertuig is later teruggevind. Van Dyk moedig die gemeenskap aan om die Bronkhorstspruit-polisiekantoor te kontak met inligting wat tot die moordenaar se inhegtenisneming kan lei.
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê hy is baie bekommerd oor die voortgesette aanhouding van twee Suid-Afrikaners in Ekwatoriaal-Guinee. Peter Huxham en Frik Potgieter is sedert Februarie verlede jaar in die tronk in die land, waar hulle vir die Nederlandse olie- en gasmaatskappy SBM Offshore gewerk het. Die departement sê Suid-Afrika se ambassadeur in Ekwatoriaal-Guinee, Nolufefe Dwabayo, het met die minister van Buitelandse Sake in Malabo vergader. Suid-Afrika gaan voort met pogings om die saak met die land se regering op te los.
# Foo Fighters het reageer nadat Donald Trump een van hulle treffers sonder toestemming gebruik het tydens sy presidensiële veldtog, toe Robert F Kennedy Junior aangekondig het hy steun Trump in sekere state. Foo Fighters sê hulle is nie toestemming gevra nie, en sou dit ook nie gegee het nie. Hulle word deel van ‘n lang lys kunstenaars wat uitgevaar het teen Trump se gebruik van hulle musiek sonder toestemming, insluitend Celine Dion, die Rolling Stones, Neil Young, Linkin Park, Black Sabbath, Aerosmith en Rihanna.
# Rugby: Die All Blacks se hulp- en voorspeler-afrigter, Jason Ryan, sê hulle maak gereed vir ‘n fisiese aanslag van die Springbokke in Saterdag se Rugbykampioenskapstoets op Ellispark. Die Springbokke is tans op hete kole oor die beskikbaarheid van Eben Etzebeth weens ‘n beenbesering. Daar is twyfel of hy sal kan speel. Ryan sê hulle is oortuig hulle sal kan meeding met die Springbokke se verwoede pak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-925-dollar-95-sent. Die prys van goud is twee-duisend-510-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….