Nuus 07:00
BULLETIN 27 Augustus
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum se aansoek teen Hlophe vorder
# COPE eis die minister van Justisie se bedanking
# En rugby: Die Bokke het ‘n moontlike slotkrisis
# Die Konstitusionele Hof het AfriForum se aansoek goedgekeur oor die afgedankte regter John Hlophe se aanstelling op die Regterlike Dienskommissie. AfriForum wil Hlophe se aanstelling onregmatig laat verklaar. Die speaker van die parlement en Hlophe moet teen 30 Augustus beëdigde verklarings indien. Die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, beskou die hof se goedkeuring as ‘n positiewe stap in die uitdaging van die aanstelling, wat hy betoog regterlike geloofwaardigheid ondermyn:
# COPE eis dat die minister van Justisie, Thembi Simelane, bedank of dat president Cyril Ramaphosa haar onmiddellik afdank. Dit volg ná berigte dat die minister na bewering ‘n lening van meer as ʼn halfmiljoen-rand ontvang het van dieselfde maatskappy wat onwettige munisipale beleggings van 349-miljoen-rand by VBS Mutual Bank hanteer het. Dit het plaasgevind terwyl sy burgemeester van Polokwane was. COPE sê wetstoepassingsagentskappe moet Simelane onmiddellik in hegtenis neem vir korrupsie en geldwassery.
# Die regspan van Ace Magashule se gewese persoonlike assistent, Moroadi Cholota, gaan vandag ʼn gewysigde kennisgewing van mosie indien. Dit volg nadat die Vrystaatse Hooggeregshof haar aansoek om haar arrestasie en uitlewering van Amerika onregmatig en ongrondwetlik te verklaar, van die hand gewys het. Cholota is op die 15de van die maand op borgtog van twee-duisend-500 vrygelaat. Haar prokureur, Piet Tibane, het aan Newzroom Afrika gesê die staat het nie die saak se meriete in ag geneem nie:
# Die Stad Tshwane het 96-persent van sy regeringstoelaes en -subsidies vir die 2023/24-boekjaar doeltreffend gebruik. Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Jacqui Uys, sê 98,1-persent van die operasionele toelaes van vyf-miljard-rand is bestee, terwyl 93,4-persent van die 1,7-miljard-rand vir kapitaalprojekte gebruik is. Uys sê dit is ‘n aansienlike verbetering in finansiële bestuur, met fondse wat openbare dienste en infrastruktuurprojekte soos padopgraderings, waterinfrastruktuur, en maatskaplike behuising steun. Sy sê die stad se leierskap bly verbind tot gemeenskapsgerigte projekte.
# Oekraïne se president Volodymyr Zelensky het ʼn beroep op Westerse bondgenote soos Amerika, Brittanje en Frankryk gedoen om Kiëf toe te laat om hulle wapens te gebruik om dieper in Rusland toe te slaan. Dit volg ná ʼn reuse-aanval op Oekraïne waarin minstens ses mense dood, en krag- en watervoorsiening erg beskadig is. Kiëf mag sekere Westerse wapens gebruik om teikens binne Rusland te tref, maar nie langafstandwapens nie. Zelensky sê hulle kan meer doen om lewens te beskerm indien Europese lugmagte saam met Oekraïne se lugverdediging werk.
# Rugby: Die Springbokke sit met ‘n moontlike krisis op slot na die nuus dat Eben Etzebeth dalk gedwing sal word om Saterdag se eerste Rugby Kampioenskapstoets teen die All Blacks op Ellispark in Johannesburg mis te loop. Dit volg op RG Snyman se besering, terwyl Salmaan Moerat nie beskikbaar is nie weens die protokol oor kopbesering-beoordelings. Lood de Jager, Franco Mostert en Jean Kleyn is ook beseer. Die hulpafrigter Deon Davids sê hulle het gelukkig spelers soos Pieter-Steph du Toit en Ben-Jason Dickson, wat die gaping kan vul.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-156-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-507-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….