Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa spreek hom uit teen Suid-Afrika se afhanklikheid van fossielbrandstowwe
# IFC staan gereed vir steun aan Suid-Afrika se elektrisiteitsnetwerk-uitbreiding met privaat sektorbetrokkenheid
# En, Paralimpiese Spele: Jackie Chan is een van die fakkeldraers voor die openingseremonie in Parys
# President Cyril Ramaphosa waarsku afhanklikheid van fossielbrandstowwe om te industrialiseer hou ‘n bedreiging vir Suid-Afrika in. Hy was die hoofspreker op die Munisipale Billike Energie-oordragkonferensie in Midrand, Gauteng. Die konferensie, wat vandag en môre gehou word, bring burgemeesters, tegniese en munisipale bestuurders van reg oor die land byeen. Ramaphosa sê daar sal ekonomiese en omgewingsgevolge wees as die land aanhou om goedere te vervaardig met fossiel-intensiewe energie:
# Die Internasionale Finansieringskorporasie is gereed om Suid-Afrika te steun met die uitbreiding van sy elektrisiteitsnetwerk deur die deelname van die privaat sektor. Die korporasie se visepresident vir Afrika, Sérgio Pimenta, sê die Wêreldbankgroep het die regering raadgegee oor modelle vir onafhanklike transmissieprojekte teen netwerk-agterstande. Suid-Afrika moet belê in netwerkuitbreiding en die korporasie beplan om regstreekse finansiering te verskaf en privaat belegging te mobiliseer. Pimenta beklemtoon die belangrikheid van ‘n samewerkende benadering tussen die openbare en privaat sektore om die doelwitte te bereik.
# ActionSA in Johannesburg het sy kommer uitgespreek oor die voorstel van die burgemeester, Dada Morero, oor die werwing van buitelanders vir die Johannesburgse Metropolisiedepartement. Hy het voorgestel dat die uitvoerende streekkomitee die werwing van behoorlik gedokumenteerde buitelanders vir die JMPD oorweeg om die bestaande taalhindernisse te oorbrug. Nobuhle Mthembu van ActionSA sê die voorstel is ‘n belediging vir die duisende Suid-Afrikaners wat daarna streef om vir die JMPD te werk, veral die duisende verwaarloosde polisiereserviste:
# Paralimpiese Spele: Die gewilde Hollywood-akteur Jackie Chan sal Woensdag een van die laaste fakkeldraers wees voor die openingseremonie in Parys. Die 70-jarige gevegskunsspesialis sal hom aansluit by ander groot name soos die Franse aktrise Elsa Zylberstein en die plaaslike danser en choreograaf Benjamin Millepied. Die plegtigheid sal ook buite die hoofstadion, Stade de France, gehou word, en sluit ‘n parade in op die wêreld-beroemde Champs-Elysees na die Place de la Concorde in die middestad van die Franse hoofstad.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-856-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-525-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-5-sent per vat.
# En ten slotte: Met Vrouemaand haas op ‘n einde beklemtoon One Billion Rising SA die behoefte aan daadwerklike optrede teen geslagsgeweld in plaas van leë beloftes. Die aktivis Tanya Bippert kritiseer die regering se tekortkominge, insluitende agterstande met forensiese uitslae, onderbemande dienste en begrotingsbesnoeiings. Sy verwys na die tragiese moord op die 16-jarige leerder van Caledon, Deveney Nel, as ‘n pynlike herinnering aan die deurlopende krisis. Bippert dring aan op onmiddellike en betekenisvolle ingryping om vroue te beskerm en beklemtoon dit vereis volgehoue hulpbronne van alle regeringsvlakke.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….