Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa loof die werk van die hernubare energieprogram
# Malawi begin met sifting vir A-pokke by toegangspunte
# En, tennis: Die Amerikaanse Ope-enkelspelkampioene kry elkeen 64-miljoen-rand
# President Cyril Ramaphosa het die werk geloof wat gedoen word deur die regering se hernubare onafhanklike kragopwekker-verkrygingsprogram. Hy beskou dit as suksesvol, met meer as 209-miljard-rand se beleggings wat gelok is en broodnodige vermoë wat gevoeg is by die elektrisiteitsnetwerk. Ramaphosa het tydens sy hooftoespraak op die Munisipale Energie-oordragkonferensie beklemtoon opwekkingsprogramme het uitgeloop op ‘n aanbod van meer as 130 bevestigde projekte:
Die Internasionale Finansieringskorporasie is intussen gereed om Suid-Afrika te steun met die uitbreiding van sy elektrisiteitsnetwerk deur die deelname van die privaat sektor. Die korporasie se visepresident vir Afrika, Sérgio Pimenta, sê die Wêreldbankgroep het die regering raadgegee oor modelle vir onafhanklike transmissieprojekte teen netwerk-agterstande. Suid-Afrika moet belê in netwerkuitbreiding en die korporasie beplan om regstreekse finansiering te verskaf en privaat belegging te mobiliseer. Pimenta beklemtoon die belangrikheid van ‘n samewerkende benadering tussen die openbare en privaat sektore om die doelwitte te bereik.
# Die ANC het sy onwrikbare steun herbevestig vir die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering omdat dit ‘n besluit was van die party se 55ste konferensie om universele gesondheidsdekking te kry vir alle Suid-Afrikaners. Aaron Motsoaledi van die ANC sê die party glo die NGV is ‘n transformerende stap in die regstelling van die ongelykhede in Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel, en die party is vasberade om die suksesvolle instelling enduit te sien:
# Malawi het begin met sifting vir A-pokke by toegangspunte, waaronder lughawens, om ‘n uitbreking te verhoed. Twee vermeende gevalle – ‘n 31-jarige man wat in die hospitaal is, en ‘n 17-jarige seun wat tuis behandel word – wag op die uitslag van toetse. Die woordvoerder van die Gesondheidsministerie, Adrian Chikumbe, sê die ministerie het met bewusmakingsveldtogte begin en ‘n mobiele diagnostiese eenheid in Lilongwe opgerig om reaksiepogings te versterk. Hy sê die land berei voor vir die slegste moontlike uitkoms:
# Tennis: Die Amerikaanse Ope begin vandag op Flushing Meadows en het die grootste individuele prysgeld van al vier Grand Slam-toernooie vanjaar. Die enkelspelwenners sal elkeen 64-mijoen-rand in die sak steek uit die algehele prysgeld van 1,3-miljard-rand. Die twee naaswenners kry ‘n troosprys van 32-miljoen-rand elk. Die twee verdedigende kampioene is die wêreld nommer twee, Novak Djokovic van Serwië, wat mik na sy 25ste Grand Slam-titel, en die plaaslike vrouespeler, Coco Gauff, wat vanjaar derde gekeur is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-909-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-524-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….