Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die wêreld se oudste lewende man, John Tinniswood, sê sy 112de verjaardag is maar net nog ‘n dag soos enigiets anders in sy lewe. Hy is op 26 Augustus 1912 in Liverpool gebore. Tinniswood, wat in ‘n versorgingsoord in Southport, Engeland woon, het in April die wêreld se oudste man geword toe die 114-jarige Juan Vicente Pérez Mora oorlede is. Dit is as ‘n rekord deur die Guinness World Records verklaar. Tinniswood sê hy het nie ‘n spesiale geheim oor hoekom hy so lank leef nie, maar hy hou baie van vis en tjips elke Vrydag.
# ‘n Dosent aan die Universiteit van Pretoria, Relebogile Mashile, is benoem as een van 28 stigterslede uit 23 lande van die Internasionale Federasie van Rekenmeesters se Jong Leiers. Mashile is ook ʼn geoktrooieerde rekenmeester en sal tot einde 2025 as lid dien. Die lede sal insigte verskaf oor sommige van die grootste probleme in die beroep. Dit sluit in die stryd teen korrupsie, kunsmatige intelligensie, en om talent te lok en te behou. Mashile sê hierdie prestasie benadruk die belangrikheid van onderwys en die mag van uithouvermoë om groter hoogtes te bereik.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, vier onderrig-uitnemendheid deur die wenners van die Provinsiale Onderrigtoekennings aan te kondig. Hy sê hierdie toekennings gee opvoeders die geleentheid om die ongelooflike werk ten toon te stel wat onderwysers elke dag in openbare skole doen. Maynier sê 15 wenners sal nou die provinsie verteenwoordig op die Nasionale Onderrigtoekennings, wat in Oktober gehou word:
# Namibiërs vier vandag hulle 34ste Heldedag by die Omuthiuya-ontspanningspark in die Oshikoto-streek. Die byeenkoms sal hulde bring aan die dapper helde en heldinne van die vryheidstryd wat op 26 Augustus 1966 in Omugulugwombashe begin het. Die eerste minister, Saara Kuugongelwa-Amadhila, sê dit het die weg gebaan vir ‘n soewereine en onafhanklike Namibië:
# En ten slotte: Dit is vandag Internasionale Hondedag. Op dié dag vier die wêreld die mens se beste vriend en skep bewustheid oor die viervoet-metgeselle se behoeftes. Die dag is in 2004 deur die diere-kampvegter, Colleen Paige, ingestel en beklemtoon die belangrikheid van troeteldier-eienaarskap, -aanneming en die welsyn van honde wêreldwyd. Hondeliefhebbers word aangemoedig om hul troeteldiere vandag te bederf met spesiale eetgoedjies, bedrywighede en ekstra aandag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….