Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa kondig die hertoekenning van semi-staasinstellings aan onderskeie ministeries aan
# ActionSA verkla die minister van Justisie oor ‘n bedenklike lening van ‘n half-miljoen-rand by die VBS-bank
# En, tennis: Die Amerikaanse Ope begin vandag op Flushing Meadows in New York
# President Cyril Ramaphosa het ondernemings in staatsbesit hertoegeken vanaf die Departement van Openbare Werke na hulle relevante ministeries. Eskom val nou onder die Departement van Elektrisiteit en Energie, die Suid-Afrikaanse Lugdiens onder die Departement van Vervoer, en Denel onder die Departement van Verdediging. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sal die Wetsontwerp op Nasionale Staatsondernemings afhandel vir geleidelike oordragte:
# ActionSA het ‘n dringende klagte by die Openbare Beskermer ingedien teen die minister van Justisie, Thembi Simelane. Dit volg op onthullings dat sy, toe sy burgemeester van Polokwane in Limpopo was, ‘n lening uitgeneem het by dieselfde beleggingsmakelaar wat die onwettige belegging van 349-miljoen-rand deur die munisipaliteit in die ineengestorte VBS-bank moontlik gemaak het. Athol Trollip van ActionSA sal president Cyril Ramaphosa ook inlig oor die klagte:
# Cosatu verwelkom die vordering met die voorbereidings vir die instelling van die tweepotpensioen-hervormings op 1 September. Matthew Parks van Cosatu sê miljoene werkers wag al lank op dié dag en sien uit na die vermoë om toegang te kry tot ‘n beperkte deel van hulle aftreefondse. Hy sê onderhandeling is altyd ‘n proses van gee-en-neem, en toegewings:
# Die Nasionale Informele Handelaarsalliansie van Suid-Afrika versoek die sewende administrasie om van voor af te begin met die wetgewende proses oor die Wetsontwerp op Tabakprodukte en die Beheer van Elektroniese Afleweringstelsels. Die alliansie is van mening om die wetsontwerp sonder behoorlike hersiening weer voor te lê, ignoreer demokratiese beginsels en vra vir ‘n evaluasie van die uitwerking op informele handelaars in die groeiende onwettige tabakhandel. Woordvoerder Rosheda Muller vra gesprekke by die Nasionale Raad oor Ekonomiese Ontwikkeling en Arbeid om breër betrokkenheid van belanghebbers te verseker.
# Tennis: Die laaste Grand Slam-toernooi van die jaar, die Amerikaanse Ope, begin vandag op Flushing Meadows in New York. Onder die gunstelinge onder die vroue is die twee topgekeurdes, Iga Swiatek van Pole en Aryna Sabalenka van Belarus. Swiatek begin haar veldtog vir ‘n sesde Grand Slam-titel teen Kamilla Rakhinova van Rusland, terwyl die tweemalige Grand Slam-kampioen, Sabalenka, teen Priscilla Hon van Australië te staan kom. Die verdedigende manskampioen, Novak Djokovic van Serwië, kom in die eerste ronde teen Radu Albot van Moldowië te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-971-dollar-74-sent. Die prys van goud is twee-duisend-524-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….