Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 Augustus 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk vandag eerste na krieket: Die Wes-Indiese Eilande het Suid-Afrika met 30 lopies verslaan en loop met twee-nul voor in die reeks van drie T20-wedstryde in Trinidad. Die gashere is ingestuur om eerste te kolf en het 179 vir ses aangeteken, met Shai Hope wat 41 bygedra het. Reeza Hendricks het daarna 44 van 18 balle aangeteken, maar die speler van die wedstryd, Romario Shepherd, het drie paaltjies vir 15 lopies platgetrek en die Proteas is in hulle laaste boulbeurt uitgeboul vir 149. Die laaste T20 vind môre plaas.
Die Proteas-vroue is intussen in Durban byeen vir ‘n nasionale oefenkamp om voor te berei vir die T20-Wêreldbekertoernooi. Dit volg na ‘n vaardigheidskamp in Tshwane vroeër die maand. Die tussentydse hoofafrigter, Dillon du Preez, sê die kamp op Kingsmead sal verseker die beste moontlike groep is gereed vir die toernooi, wat vroeg in Oktober in die Verenigde Arabiese Emirate begin. Die toernooi is na die Emirate verskuif weens politieke onrus in Bangladesj.
# Vervolgens, motorsport: Mercedes se Formule Een-spanhoof, Toto Wolff, sê die swak vertoning in die Nederlandse Grand Prix kan moontlik toegeskryf word aan die opknapping van albei motors se onderplate. George Russell het sewende geëindig voor sy spanmaat, Lewis Hamilton, terwyl Lando Norris van McLaren met die kroon weggestap het. Mercedes het drie van die laaste vier wedrenne voor die somerblaaskans gewen. Wolff sê ʼn paar faktore kon bygedra het tot die swak prestasie in Zandvoort:
# Tennis-nuus: Novak Djokovic het hom aangesluit by ‘n debat oor opkikkersake na Jannik Sinner vrygespreek is nadat hy positief getoets het vir ‘n verbode middel. Die Serwiese kampioen het voor die begin van die Amerikaanse Ope ‘n beroep gedoen vir duidelike protokolle en ‘n gestandardiseerde benadering. Die Italiaanse wêreld nommer een het in Maart twee keer positief getoets vir clostebol, ‘n steroïde wat gebruik kan word om spiermassa te bou. Sinner is vrygespreek nadat sy nou afgedankte fisoterapeut, Giacomo Naldi, erken het hy het per ongeluk die oor-die-toonbank-middel op sy hande gebruik voor ‘n behandeling.
# Ons maak ten slotte ‘n draai op die gholfbaan: Die Nieu-Seelander Lydia Ko het die Britse Ope vir Vroue by Sint Andrews met twee houe gewen en spog met haar eerste Major-sege in agt jaar. Die 27-jarige Ko wat die Olimpiese goue medalje in Parys gebuit het, het die laaste ronde met ʼn agterstand van drie houe begin, maar ingehaal en met drie-onder 69 haar derde major gewen. Die verdedigende kampioen van Amerika, Lilia Vu, haar landgenoot Nelly Korda, Jiyai Shin van Suid-Korea en Ruoning Yin van China deel die tweede plek. Ko sê die oorwinning voel onwerklik:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….