Nuus 13:00
BULLETIN 25 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu is verbyster deur die omvang van korrupsie by die Tembisa-hospitaal
# Duitsland se mesaanval-verdagte is glo ‘n lid van die Islamitiese Staat
# En tennis: Omstredenheid heers oor Sinner se gedruipte opkikkertoets voor die Amerikaanse Ope
# Cosatu sê hy is verbyster deur die omvang van korrupsie by die Tembisa-hospitaal in Ekurhuleni nadat nog bedrieglike transaksies van soveel as drie-miljard-rand onthul is. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê ‘n Spesiale Ondersoekeenheid-operasiehet ‘n verdere vyf-duisend-500 transaksies aan die lig gebring. Die fluitjieblaser, Babita Deokaran het korrupsie van 850-miljoen-rand ontbloot voor sy drie jaar gelede in ‘n sluipmoordaanval dood is:
# Die Oos-Kaapse LUR vir Gesondheid, Ntandokazi Capa, het die bevindings van die Spesiale Ondersoekeenheid oor mediese regseise verwelkom. Die LUR se woordvoerder, Mkhululi Ndamase, sê die department het aangevoer sommige gewetenlose regslui het met gesondheidsorgwerkers saamgespan om die departement te melk en die provinsie geldelik te wurg. Hy sê hoewel die provinsie se voorwaardelike mediese regs-aanspreeklikheid op 22,3-mijard-rand staan, is hulle vol vertroue howe sal die meeste daarvan verwerp:
# Die DA in die Noord-Kaap doen ‘n beroep op die provinsiale Departement van Onderwys om toe te sien dat die riool-oorstroming by die Greenpoint High School in Kimberley dringend opgelos word voordat leerders met hul graad 12-eksamens moet begin. Delmaine Christians van die DA sê leerders is vroeg verlede week huis toe gestuur omdat hulle nie die badkamers kon gebruik nie. Teen die einde van die week moes die skool heeltemal gesluit word:
# Duitse aanklaers sê die verdagte wat in verband met die mesaanval in die stad Solingen gearresteer is, is vermoedelik ‘n lid van die Islamitiese Staat. Drie mense is dood en agt beseer na Vrydag se lukrake aanval by ‘n fees. Die polisie van Düsseldorf en aanklaers het onthul die 26-jarige Siriese man het homself oorgegee. Duitse federale aanklaers, wat die ondersoek oorgeneem het, het sy vermeende bande met die ekstremistiese groep onthul. Die Islamitiese Staat het gister beweer hulle is verantwoordelik vir die aanval.
# En, tennis: Die omstredenheid rondom wêreld nommer een, Jannik Sinner, se twee gedruipte opkikkertoetse duur onverpoosd voort voor môre se begin van die Amerikaanse Ope. Dit is verlede week bekendgemaak hy het twee keer in Maart positief getoets. Hy is sy punte op die ranglys en prysgeld vir die Indian Wells-meesters ontneem, maar nie geskors nie. Die voormalige wêreld nommer een, Andy Roddick, verdedig die Italianer en sê die hoeveelheid opkikkers in sy gestel is so klein en sy verduideliking maak sin. Ander mense beskuldig die tennisbase egter van dubbele standaarde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….