Nuus 11:00
BULLETIN 25 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Vier mense is dood en drie beseer in ‘n brand in ‘n gebou in Jeppestown, Johannesburg
# Rusland en Oekraïne laat krygsgevangenes vry
# En, rugby: Die voormalige Bok-hulpafrigter Felix Jones bedank as Engeland se verdedigingskenner
# Vier mense is dood en drie is beseer in ‘n brand wat in ‘n gebou wat in onbruik verval het op die hoek van Janie- en Jules-straat in Jeppestown, in die Johannesburgse middestad uitgebreek het. Die woordvoerder van die stad se Noodbestuursdienste, Robert Mulaudzi, sê die brand het vroeg vanoggend ontstaan. Hy sê brandweerpersoneel het die liggame van die slagoffers opgespoor terwyl hulle met ‘n soek- en herwinningsoperasie besig was:
# Die SAKP doen ‘n beroep op die regering vir beslissende optrede met die instelling van die Nasionale Gesondheidsversekering wat nou in wet is. Die SAKP se leier, Alex Mashilo, sê hulle kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik toegang tot gehalte gesondheidsorg vir alle burgers is nie, ongeag hulle maatskaplike, ekonomiese of geskiedkundige status, want dit is ‘n fundamentele grondwetlike reg. Mashilo sê die Kommunistiese Party sal sy pogings versterk vir maksimum werkersklas-eenheid en mobilisering teen wat hy noem gierige kapitaliste wat die voortuitgang in verskaffing van gesondheidsorg wil omkeer.
# Die Oekraïnse president Volodimir Zelensky het die vrylating van 115 krygsgevangenes van Rusland bevestig. Zelensky het die Verenigde Arabiese Emirate bedank vir sy rol as bemiddelaar tussen die lande. Dit is die eerste uitruiling van gevangenes sedert Oekraïne se inval in Rusland vroeër die maand. Die Russiese weermag sê hy het soldate wat in Kursk gevange geneem is, uitgeruil. Hulle is nou in Belarus en gaan mediese behandeling en rehabilitasie ontvang sodra hulle in Rusland aankom.
# Rugby: Engeland se verdedigingsafrigter, Felix Jones, het na sewe maande in die pos sy onmiddellike bedanking ingedien. Dit volg na die krag- en kondisionerings-guru, Alex Walters, ook onlangs weg is om by Ierland aan te sluit. Die voormalige Ierse speler het twee Wêreldbekers in 2019 en 2023 saam met die Springbokke ingepalm, voor hy by die Engelse span aangesluit het vir ‘n redelike kort tydjie by Twickenham. Na wat berig word was hy ongelukkig oor wat hy beskryf as ‘n ‘onstabiele werkomgewing’ in die Engelse kamp.
# En, Kanada se minister van Buitelandse Sake, Mélanie Joly, doen ‘n beroep op inwoners van Johannesburg om die natuur te beskerm en klimaatveerkragtigheid in die stad te bevorder. Joly het die Jukskeirivier besoek om die werk van die Alexandra Water Warriors te bekyk. Die stad se woordvoerder, Virgil James, sê die groep beywer hom vir die rehabilitasie van die rivier en om bome te plant ingevolge die internasionale Scaling Urban Nature-based Solutions-projek. Dit het ten doel om vloedgevaar te verminder en aanpassing by klimaatsverandering te verbeter:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….