Nuus 13:00
BULLETIN 24 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom die rasionalisering van brandstofpryse
# Eskom verminder sy dieseluitgawes met meer as 10-miljard-rand
# En, rugby: Die All Blacks se beseringslys word ál langer
# Die DA verwelkom die regering van nasionale eenheid se aankondiging dat ‘n brandstofprys-ingrypingsplan binnekort by die kabinet ingedien sal word. Kevin Mileham van die DA sê dit is ‘n oorwinning vir elke Suid-Afrikaner wat die knyp van hoë brandstofpryse voel. Hy sê die regering kan dit eenvoudig nie langer meer bekostig om die lot van verbruikers te ignoreer nie, op ‘n tydstip dat talle mense sukkel om brood op die tafel te sit:
# Eskom sê dieseluitgawes is van 1 April tot 22 Augustus met 10,6-miljard-rand verminder. Dit is ‘n afname van sowat 75-persent, vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die kragverskaffer se strategiese gebruik van spitstydstasies, insluitend opberging deur pompstasies en oopsiklusgasturbines, is kernbelangrik in die bestuur van kragaanvraag tydens spitstye. Sy voeg by dieselverbruik is steeds aansienlik minder as die geprojekteerde syfers vir die winter:
# Die Duitse polisie is op soek na ‘n aanvaller wat drie mense gisteraand by ‘n fees in Solingen, in die weste van die land, met ‘n sterk voorwerp noodlottig beseer het. Nog agt feesgangers is ernstig gewond. Beamptes het bevestig die man is steeds nie uitgeken nie en hy is nog op vrye voet, maar daar is min leidrade oor sy identiteit en motief. Na die lukrake aanvalle is mense vroeg vanoggend gevra om die plein waar die fees gehou is, kalm te verlaat, maar hulle is gewaarsku om waaksaam te wees omdat die aanvaller nog nie aangekeer was nie.
# Rugby: Die All Blacks se beseringslys word ál langer met stut Ethan de Groot die mees onlangse om die twee toetse teen die Springbokke in die Rugbykampioenskap mis te loop. Hy het nie betyds van ‘n nekbesering herstel nie wat hom ook uit die tweede toets teen Argentinië gehou het. Dit volg op die beserings van die slot, Patrick Tuipolotu, en veelsydige agterspeler, Stephen Perofeta. George Gower vervang De Groot in die groep. Die eerste toets teen die Springbokke is Saterdag op Ellispark en die tweede ‘n week later in Kaapstad.
# En ten slotte: Die regering het die herverkiesde leierskap van die Black Business Council, gelei deur Elias Monareng as president, gelukgewens. ‘n Woordvoerder van die regering se kommunikasie en inligtingstelsel, Nonnie Nkothana, sê hulle erken die belangrike rol van die raad in die vestiging van ekonomiese groei, die skepping van werkgeleenthede en die bevordering van beleid wat gelyke deelname aan die ekonomie bewerkstellig. Sy sê die raad sal op sy suksesse voortbou en steeds bydra tot maatskaplik-ekonomiese transformasie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….