Nuus 11:00
BULLETIN 24 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Vyf verdagtes is aangekeer in ‘n gefnuikte ontvoering in Johannesburg
# Minister Nkabane herstel die registrasie van Edie ducor-groep voorwaardelik
# En, rugby: Probleme duik op met Kolisi se terugkeer na die Haaie
# Vyf verdagtes, insluitend twee Suid-Afrikaners, twee Ugandese en een Malawiër, is gister aangekeer vir ‘n beweerde sameswering om ‘n vrou in Melrose Arch, Johannesburg, te ontvoer in ruil vir ‘n losprys. ‘n Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê beamptes en lede van die Valke het op inligting gereageer oor ‘n Suid-Afrikaanse vrou wat na bewering beplan het vir haar werkgewer om ontvoer te word en gedwing te word om groot bedrae geld uit haar sakebankrekening te onttrek:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, het die registrasie van die Educor-groep herstel op voorwaarde dat dit ten volle aan die Raad op Hoër Onderwys se akkreditasievereistes voldoen, voor enige onderrig- en leeraktiwiteite hervat kan word. Educor se Lyceum College, Damelin, CityVarsity en Icesa City Campus, is deur die raad gederegistreer nadat die onderwysverskaffer versuim het om ondermeer sy 2020 en 2021 finansiële sertifikate en jaarverslae in te dien, onder talle ander kwessies. Die departement se woordvoerder, Lucky Masuku, sê Educor moet omvattende maandelikse verslae by die departement indien.
# Die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, sê swak-presterende vullisverwyderingskontrakteurs, wie se dienste opgeskort is, het bygedra tot onwettige storting in die metro. Brink het vullisverwyderingsvragmotors by die Pretoria-Wes afvaldepot geïnspekteer om te verseker hulle voldoen aan die nuwe regulasies. Die burgemeester sê sowat 60-persent van die vorige afvalkontrakteurs is nie ingesluit in die nuwe tender nie, vanweë die streng spesifikasies om doeltreffendheid te verbeter:
# Rugby: Springbok-kaptein, Siya Kolisi, se verwagte terugkeer na die Haaie ondervind glo probleme. Volgens onlangse berigte wil die flank vrygestel word van sy kontrak met die Franse reus, Racing 92, na minder as ‘n jaar van sy driejaar-ooreenkoms, nadat die eienaar van Racing, Jacky Lorenzetti, openlik krities was oor sy gebrek aan prestasie. Lorenzetti vra glo die oordragfooi van ongeveer 17-miljoen-rand in een betaling en verwerp die Haaie se aanbod om dit in paaiemente te doen. SA Rugby is nie bereid om by te dra nie.
# En ten slotte: Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, sê die metro het ‘n verdere 2,8-miljard-rand in finansiering bekom vir sy planne vir ‘n Suid-Afrikaanse rekord-infrastruktuurbelegging oor drie jaar. Hy sê Kaapstad beoog om van Julie vanjaar tot Junie 2027 altesaam 39,5-miljard-rand aan infrastruktuur te bestee, soos goedgekeur in sy Building for Jobs-begroting. Hill-Lewis sê dit is Suid-Afrika se grootste drie-jaar infrastruktuurbelegging ooit deur ‘n metropolitaanse plaaslike owerheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….