Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ontleder waarsku die onenigheid tussen die EFF en MK kan die opposisie in die Parlement ontwrig
# Duikers ontdek die liggaam van die laaste slagoffer nadat ‘n super-seiljag naby Sicilië gesink het
# En, tennis: ‘n Taai loting wag op die wêreld nommer-een Jannik Sinner op die Amerikaanse Ope
# Die politieke ontleder, Ntsikelelo Breakfast, waarsku die getwis tussen die leier van die EFF, Julius Malema, en die nasionale organiseerder van die MK-party, Floyd Shivambu, kan opposisiepolitiek in die Parlement onbestendig maak. Shivambu se onlangse oorlopery van die EFF na die MK-party, te midde van interne spanning, kan tot nog oorlopery aanleiding gee. Breakfast het aan die SABC gesê dit kan die dinamiek in die progressiewe koukus bemoeilik:
# Die Gautengse polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, sê die polisie maak vordering om dwelmfabrieke in die provinsie te identifiseer en te sloop. Dit volg op die inhegtenisneming van twee onwettige immigrante en die ontdekking van ‘n dwelmfabriek met dwelms en vervaardigingsmasjinerie met ‘n geskatte waarde van 80-miljoen-rand in Douglasdale, Johannesburg. Polisiewoordvoerder Mavela Masondo sê die polisie in Gauteng het die afgelope vyf maande meer as tien dwelmfabrieke ontdek:
# Die Italiaanse Kuswag sê duikers het die liggaam van die laaste vermiste persoon gevind nadat ‘n super-seiljag Maandagoggend naby Sicilië gesink het. Die 18-jarige dogter van die Britse tegnologie-magnaat Mike Lynch, Hannah, was die laaste vermiste. Lynch, die voorsitter van Morgan Stanley Internasionale Bank, Jonathan Bloomer, sy vrou Judy, ‘n prokureur van Clifford Chance, Chris Morvillo, en sy vrou Neda is ook in die ongeluk dood. Vyftien van die 22 mense op die seiljag het oorleef nadat hulle ‘n reddingsboot kon bereik.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een en topgekeurde, Jannik Sinner, het ‘n taai loting vir die Amerikaanse Ope wat Maandag in New York begin. Die Italianer kom dalk in die vierde ronde teen die 14de-gekeurde Amerikaner Tommy Paul te staan, in die kwarteindronde teen 2021 se kampioen, Daniil Medvedev van Rusland, in die halfeindronde teen die derde-gekeurde Spanjaard Carlos Alcaraz, en in die eindstryd teen die verdedigende kampioen, Novak Djokovic van Serwië. Sinner is ook gekritiseer na die onthulling dat hy onskuldig bevind is nadat hy in Maart twee keer positief getoets het vir opkikkers.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-825-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-500-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Man met longkanker het die eerste pasiënt in Brittanje geword om ‘n nuwe proef-entstof te ontvang om sy liggaam te help om die siekte te beveg. Janusz Racz het ses inspuitings ontvang wat elkeen genetiese materiaal vir ‘n ander gedeelte van die gewas bevat. Dit sal vyf-miljard selle in sy immuunstelsel aktiveer om die kankerselle aan te val. Die entstof word deur BioNTech gemaak en gebruik dieselfde mRNS-tegnologie wat vir die hoogs doeltreffende Covid-19-entstof aangewend is. Sowat 130 pasiënte met longkanker by ses hospitale in die VK is deel van die studie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….