Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu sê die stryd vir ‘n vry Palestina is ook ‘n stryd vir ‘n nuwe demokratiese ekonomiese model
# Die Gautengse regering neem Sanral se e-tol-kringtelevisienetwerk oor
# En, sokker: Die wêreld se grootste sokkerstadion word in Marokko beplan vir 2030 se Wêreldbekertoernooi
# Cosatu sê die herskepping van die wêreldwye energie-ekonomie gebaseer op die belange van imperialisme en ‘n paar monopolieë hou Afrika en die globale suide afhanklik en onderontwikkel. Dit volg nadat Columbië steenkooluitvoere na Israel opgeskort en Suid-Afrikaanse maatskappye aangeraai het om dieselfde te doen. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê die stryd vir ʼn vry Palestina is ook die stryd vir ʼn nuwe, regverdige en demokratiese ekonomiese model:
# Die Gautengse regering het die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap se kringtelevisienetwerk op e-tol-seinbrûe oorgeneem om misdaad te bekamp. Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, sê die tegnologie help om gesteelde voertuie op te spoor en spoed dop te hou terwyl wetstoepassingsagente die beheersentrum beman. Hy sê hierdie integrasie bevorder misdaadbestryding in die provinsie.
# Suid-Afrika se klein diamantprodusente ondervind ernstige probleme weens die wêreldwye diamantkrisis. Volgens die Suid-Afrikaanse Diamantprodusente-organisasie beleef die bedryf groot prysdalings en toenemende mededinging van diamante wat in laboratoriums vervaardig word. Die voorsitter, Gert van Niekerk, het aan Mining Weekly gesê hulle het regeringshulp gevra, insluitend laer tantieme en BTW op diamante, om plaaslike produsente deur die krisis te help:
# Die prys van goud het gestyg weens verwagtinge dat Amerika rentekoerse gaan verlaag en verhoogde goudaankope deur sentrale banke, veral in China en Rusland. Die goudprys het sedert Maart met 20-persent gestyg en nuwe hoogtes bereik te midde van globale ekonomiese verskuiwings. Volgens ekonoom Dawie Roodt gebruik Rusland goud vir betalings, en dit verhoog die vraag:
# Sokker: Marokko beplan om die wêreld se grootste sokkerstadion te bou vir 2030 se Wêreldbekertoernooi wat hy saam met Spanje en Portugal gaan aanbied. Die land hoop die Grande Stade Hassan die Tweede sal die eindstryd aanbied. Die stadion word beplan in El Mansouria, noord van Casablanca, en sal sitplek kan gee aan 115-duisend toeskouers. Die argitekte sê dit lyk na ‘n soort tradisionele gemeenskaplike tent, ‘n moussem, en sal aluminium traliewerk hê wat ook sal strek oor tuine op verskeie vlakke, asook ‘n botaniese tuin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-306-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-500-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….