Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Carl Niehaus sê MK-lede wil hê hy moet hom by die party aansluit
# AfriForum veroordeel die boeremoord-boodskap deur die direkteur van die Nketoana Plaaslike Munisipaliteit
# En, krieket: Die heel eerste vrouetoets op Lord’s word in 2026 gespeel
# Die EFF-parlementslid Carl Niehaus sê talle MK-party-lede het boodskappe aan hom gestuur om by die party aan te sluit. Een van die EFF se stigterslede, Floyd Shivambu, het verlede week sy vertrek uit die party aangekondig om hom by oudpresident Jacob Zuma se MK-party aan te sluit. Niehaus sê hy bly getrou teenoor die EFF:
# AfriForum veroordeel ‘n WhatsApp-boodskap wat glo gestuur is deur die direkteur van die Nketoana Plaaslike Munisipaliteit in die Vrystaat, Disebo Motaung, waarin geweld aangehits word met die woorde “die beste is om die boer te vermoor”. Jacques Broodryk van AfriForum sê die burgerregtegroep eis Motaung se onmiddellike afdanking, en noem die aanmerking rassisties en aanhitsing tot geweld. Hy waarsku dit kan verdeling en onluste aanvuur:
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê die provinsiale regering kan nie langer toekyk terwyl munisipaliteite versuim om hul mandaat uit te voer met die instandhouding van stortingsterreine nie. Veertien stortingsterreine in die provinsie voldoen tans nie aan munisipale regulasies vir die hantering van afvalmateriaal nie. Jaco Mulder van die VF Plus sê plakkers wat naby die persele gaan woon om materiaal te herwin en verkoop, dra by tot die probleem:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike Regering, Anton Bredell, raai inwoners wat geraak word aan om die nasionale regering te dagvaar nadat damme in Dassenberg, Riverlands buite Malmesbury gebreek het. Een van vier damme op die Dassenberg-eiendom het vroeër die maand gebreek, wat twee ander damme geraak het. Dit het oorstromings veroorsaak in Riverlands, Chatsworth en Dassenberg. Bredell sê die damme is op eiendom van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling en die Departement van Water en Sanitasie was verantwoordelik vir die veiligheid daarvan.
# Krieket: Die heel eerste vrouetoets op die geskiedkundige Lord’s in Londen word in 2026 tussen Engeland en Indië gespeel. Dit sal Engeland se eerste tuistoets wees sedert die reeks om die As in 2023, toe Australië hulle op Trent Bridge verslaan het. Die wedstryd is oor vyf dae gespeel vergeleke met vroue wat gewoonlik vier dae speel. BBC Sport berig egter die duur van die toets op Lord’s moet nog bevestig word. Die beroemde stadion is in 1814 in gebruik geneem en 130 toetse is sedert 1884 daar gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-147-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-495-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….