Nuus 09:00
BULLETIN 23 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA prys die sakegroepe wat die gesondheidsooreenkoms boikot
# Kamala Harris waarsku oor die gevolge van nog ‘n Trump-presidentskap
# En tennis: Ons Jabeur het haar aan die Amerikaanse Ope onttrek
# Die DA loof sakegroepe, waaronder Business Unity South Africa en die South African Health Professionals Collaboration, wat die tweede presidensiële gesondheidsooreenkoms boikot. Michele Clarke van die party sê die ooreenkoms, wat die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering steun, is onderteken sonder voldoende samesprekings, wat die samewerking tussen die regering en sleutel-gesondheidsektor-rolspelers ondermyn:
Die South African Health Professionals Collaboration sê intussen die regering se weiering om kommer oor die Presidensiële Gesondheidsooreenkoms aan te spreek, is ‘n probleem. Nege gesondheidsorg-organisasies wat meer as 25-duisend mediese praktisyns verteenwoordig, het nie die ooreenkoms onderteken nie en sê dis bloot ʼn poging om voor te gee die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering word ondersteun. Die SAHPC sê hulle glo nie NGV in sy huidige formaat is ʼn werkbare model om universele gesondheidsorg te verskaf nie.
# Die GOOD-party in Kaapstad sê die burgemeester Geordin Hill-Lewis moet ophou spog oor die stad se kapitaalbegroting wat die grootste in die land is, want hy erken openlik dit is nie haalbaar nie. Die burgemeester het die beduidende oordrag van kapitaalfinansiering vir oorstaanverpligtinge vanaf die 2023/2024 boekjaar beklemtoon. Anton Louw van die GOOD-party sê dit maak geen sin om die grootste kapitaalbegroting in te dien met die wete dat slegs sowat 70 persent bestee sal word nie:
# Die Demokratiese Party se kandidaat vir die presidensiële verkiesing, Kamala Harris, het beloof sy sal vir alle Amerikaners werk en ‘n ekonomie van geleenthede skep. Sy het die party se benoeming as president aanvaar met haar verkiesingstoespraak op die laaste aand van die Demokratiese Party se Nasionale Konvensie in Chicago. Sy is die eerste swartvrou en die eerste Amerikaner van Asiatiese herkoms om ‘n groot party te lei. Harris het uitgewy oor hoekom sy glo Donald Trump se presidentskap sal uiters ernstige gevolge inhou:
# Tennis: Ons Jabeur van Tunisië sukkel met ʼn skouerbesering en het aan die Amerikaanse Ope onttrek. Haar enigste wedstryd op ʼn harde baan hierdie somer was haar nederlaag in Toronto teen Naomi Osaka van Japan. Sy was in die 2022-eindstryd in New York naaswenner ná Iga Swiatek van Pole, en was verlede jaar onder die laaste 16. Haar keuring in die trekking gaan nou na die Belg, Elise Mertens, wat in die openingsronde teen die Rus, Veronika Kudermetova, kragte meet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-711-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-492-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….