Nuus 08:00
BULLETIN 23 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering behoort bekommerd te wees oor belanghebbendes wat nie die gesondheidsverdrag onderteken nie
# Donald Trump kap Kamala Harris oor haar immigrasiebeleid
# En padwedlope: Vier Comrades-raadslede bedank
# Die South African Health Professionals Collaboration sê die regering se weiering om kommer oor die Presidensiële Gesondheidsooreenkoms aan te spreek, is ‘n probleem. Nege gesondheidsorg-organisasies wat meer as 25-duisend mediese praktisyns verteenwoordig, het nie die ooreenkoms onderteken nie en sê dis bloot ʼn poging om voor te gee die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering word ondersteun. Die groep sê hulle glo nie NGV in sy huidige formaat is ʼn werkbare model om universele gesondheidsorg te verskaf nie.
# Die parlementêre komitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het kommer uitgespreek omdat sy klagtes aan die Munisipale Afbakeningsraad nie aandag kry nie. Die klagtes handel oor prosesse en besluite oor munisipale en wyksafbakening. Meer as 70-persent van die munisipale samesmeltings wat ná die 2016 plaaslike-regeringsverkiesing gevorm is, het nie hul doel bereik nie. Die komiteevoorsitter, Zweli Mkhize, sê die gereelde afbakening wat lei tot die verskuiwing van kiesers en stemdistrikte na ander wyke, veroorsaak onstabiliteit:
# Werkers in Johannesburg wat by die Suid-Afrikaanse Munisipale werkersvakbond geaffilieer is, dreig om vandag weer te staak as daar nie aan hulle eise voldoen word nie. Minstens tien-duisend werkers het die M1 en M2 snelweë in Braamfontein en die Johannesburgse middestad versper om hulle frustrasie oor ‘n loongeskil te lug. Samwu beskuldig die stad dat hy versuim om ‘n polities-gefasiliteerde ooreenkoms in 2016 na te kom, ná ‘n staking van Pikitup werkers. Die stad sê hy oorweeg om die Arbeidshof te nader vir ‘n interdik om verdere ontwrigtings te voorkom.
# Die voormalige Amerikaanse president en Republikeinse presidentskandidaat, Donald Trump, het sy Demokratiese teenstander, Kamala Harris, se immigrasiebeleid veroordeel en haar as ʼn mislukte grens-tsaar beskryf. Hy het die VSA-Mexiko-grens in Arizona besoek. Volgens die jongste data is die aantal onwettige immigrante wat die VSA-Mexiko-grens oorsteek, die afgelope paar maande die laagste in jare. Trump het sy belofte herhaal om die grens te sluit en miljoene mense te deporteer:
# Padwedlope: Vier lede van die Comrades Marathon-vereniging het met onmiddellike ingang bedank. Dit sluit die voorsitter Mqondisi Ngcobo, ondervoorsitter Leslie Burnard, en raadslede Kerwin Basson en Pumlani Ntuli in. Ngcobo sê die afgelope weke het ʼn tol geëis op die vereniging se lede en hy het empatie met diegene wat die kwessies moes hanteer. Jeff Minnaar is aangestel as tussentydse voorsitter terwyl Peter Proctor as tussentydse ondervoorsitter sal optree tot die jaarlike algemene vergadering in November gehou word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-594-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-492-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….