Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet verseker die publiek die A-pokke-uitbreking is onder beheer
# BUSA sal nie die Presidensiële Gesondheidsverdrag onderteken nie
# En, sokker: Chelsea kontrakteer die Portugese voorspeler Joao Felix
# Die kabinet stel die publiek gerus die uitbreking van A-pokke in Suid-Afrika is onder beheer. Hulle is ook vol lof teenoor gesondheidswerkers vir hulle pogings om die uitbreking te bestuur. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het die media na afloop van die kabinetsvergadering verseker gesondheidsowerhede het doeltreffende beperkingsmaatreëls ingestel en die verspreiding van die virus is beperk:
# Business Unity South Africa sê hulle het die Presidensiële Gesondheidsverdrag deurgaans gesteun sedert dit in 2018 ingestel is. Die aangewese uitvoerende hoof, Khulekani Mathe, sê die groep het nie die huidige nuwe weergawe van die verdrag onderteken nie omdat die regering dit eensydig verander en die oorspronklike doel en doelwitte omskep het in ‘n uitdruklike belofte om die Nasionale Gesondheidsversekering te steun. Hy sê hierdie wysigings aan die verdrag is sonder oorlegpleging aangebring:
# Tshwane Nooddienste het ‘n brand op ‘n gaspypleiding in Pretoria-Wes geblus en ‘n moontlike ramp voorkom. Die brandbestryders het op ‘n ontploffing gereageer en die brand geblus terwyl ‘n gebied met ‘n omtrek van 500-meter ontruim is. Tegnici van Sasol het gehelp om gaskleppe af te sluit wat die brand toegelaat het om veilig uit te brand. Waarnemende woordvoerder Lindsay Mnguni sê geen beserings is aangemeld nie en die oorsaak word ondersoek:
# Sokker: Chelsea het bevestig die Portugese voorspeler Joao Felix gaan permanent oorskuif vanaf Atletico Madrid, kort nadat die Engelse middelveldspeler Conor Gallagher ‘n skuif in die teenoorgestelde rigting afgehandel het. Felix het ‘n kontrak van sewe-jaar met Stamford Bridge gesluit vir wie hy in die 2022/23-seisoen op ‘n leenkontrak 20 keer gespeel het. Hy het twee wedstryde vir Portugal gespeel in Euro 2024. Geen oordragfooi is vir die voormalige ster van Benfica bekendgemaak nie, maar die Britse media het vroeër berig Chelsea gaan Atletico 913-milljoen-rand betaal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-256-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-504-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Sesjarige seuntjie wat vyf dae lank vermis was, is diep in ‘n woud in Viëtman opgespoor. Dang Tien Lam, wat in die noordwestelike Yen Bai-provinsie woon, het op 17 Augustus saam met sy nege sibbe in ‘n stroompie gespeel toe hy die heuwels ingedwaal en verdwaal het. Hy is opgespoor sowat ses kilometer van waar hy vermis geraak het. Hy het reddingswerkers gevra om hom op te tel want hy was te moeg om te staan. Die seuntjie het glo oorleef op blare en wildevrugte en het water uit die stroompie gedrink.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….