Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mediese vereniging beweer die NGV-wetsontwerp gee nie oplossing vir gesondheidsorgkwessies nie
# Popcru sê die moord op polisiebeamptes bly ‘n groot bekommernis
# En krieket: Die onder 19-kaptein is van ‘n oortreding vrygespreek na sy pro-Israelse opmerkings
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging is besorg oor die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering en hou vol dit gee nie aandag aan belangrike kwessies oor gesondheidsorg nie. Hoewel die wetsontwerp deur die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar is en nog deur president Cyril Ramaphosa onderteken moet word, sê SAMA se voorsitter, Mvuyisi Mzukwa, die twyfel bestaan of die gesondheidsorgsektor aan die mandaat van die wetsontwerp kan voldoen. Hy sê SAMA ondersteun universele gesondheidsdekking, maar betreur die gebrek aan raadpleging met die vereniging tydens die formulering van die wetgewing:
# Die Polisie en Gevangenis-vakbond, Popcru sê die voortgesette moorde op polisiebeamptes bly ‘n groot bekommernis en ondermyn die behoorlike funksionering van die Strafregspleginggroep. Meer as 70 polisiebeamptes is vanjaar in die land vermoor. Volgens die woordvoerder van Popcru, Richard Mamabolo, is polisiebeamptes nou geteikende slagoffers. Hulle herhaal hul oproep dat die polisie se veiligheidstrategie en plan dringend hersien word:
Die Kaapse Forum eis intussen antwoorde van die Staats-inligtingstegnologie-agentskap oor die verouderde en onvoldoende toerusting vir polisielede in die Wes-Kaap. Die organisasie sê die polisie moet verouderde radio-kommunikasie-toerusting en persoonlike WhatsApp-boodskappe gebruik. Die forum beweer daar is ongerymdhede in die agentskap se tenderproses vir radionetwerk-opgraderings. Woordvoerder Bernard Pieters kritiseer die gebrek aan bronne vir polisielede wat met ‘n kommunikasie-krisis te doen het te midde van stygende misdaad. Hy vra deursigtigheid in die stand van tenders en oor moontlike vertragings.
# Krieket: Die kaptein van die nasionale onder-19-span, David Teeger, is van enige oortreding vrygespreek, nadat hy pro-Israelse opmerkings gemaak hy toe hy die Opkomende Ster-toekenning ontvang het tydens die Joodse Uitblinker-geleentheid in Oktober. Die hoofseun van King Edward-skool in Johannesburg het opgemerk die ware opkomende sterre is die jong soldate in Israel, waarna die Palestine Solidarity Campaign amptelik beswaar aangeteken het. Krieket Suid-Afrika het ‘n onafhanklike ondersoek gelas en daar is bevind Teeger het geen kodes verbreek of ongrondwetlik opgetree nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-994-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-31-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-78-sent per vat.
# Ten slotte: Die organisasie sonder winsbejag, Wild Restoration, sê befondsing wat hy van die Europese Buitelugbewaringsvereniging ontvang het, sal gebruik word vir projekte om die omgewing te verbeter. Dit sluit in die verwydering van uitheemse plante, hervestiging van wild, herstel van bioverskeidenheid en bekamping van klimaatsverandering. Volgens die Wes-Kaapse organisasie sal daar tydens die berg-projek 100-duisend dennebome uitgehaal en met inheemse fynbos vervang word. Die sandput-projek sal poog om gebiede te herstel waar bedreigde spesies deur indringerplante oorgeneem is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….