Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 Augustus 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby is eeste aan die beurt: SA Rugby het belangrike veranderings aangebring aan die afrigtingspan van sy nasionale spanne om dieselfde sukses te behaal as die Springbokke. Die voormalige Springbok-konsultant Swys de Bruin is aangestel as die Springbok-vroue se prestasie-afrigter, tot die Wêreldbekertoernooi in Engeland in September volgende jaar. Die voormalige Springbok Sewes-kaptein, Kevin Foote, keer terug uit Australië om die Junior Springbokke te lei en Bafana Nhleko is van die SA Onder 20’s na die senior vroue-vyftienspan herontplooi..
De Bruin sê intussen hy kan nie wag om saam met die Springbok-vrouespan hulle veldtog vir 2025 se Wêreldbekertoernooi aan te pak nie. Hy sê hy is vasberade om nie net die span vir hulle beste vertoning op die toernooi voor te berei nie, maar ook om die beste uit die span na vore te bring vir volgende maand se Vroue-15-toernooi in Kaapstad:
# Ons maak ‘n draai by krieket: Die beheerliggaam van Northern Territories in Australië hoop volgende jaar se witbalreeks tussen die Proteas en die Baggy Greens sal internasionale krieket na Darwin laat terugkeer. Die stad het in 2008 die laaste van sy vier internasionale eendagwedstryde aangebied. Australië en Suid-Afrika speel in Augustus volgende jaar in drie eendagwedstryde en drie T20’s teen mekaar en die uitvoerende hoof, Gavin Dovey, onderhandel met Krieket Australië vir wedstryde in Darwin. Hy sê dit is een van die min plekke in Australië wat ideaal is vir winterkrieket.
# Vervolgens, motorsport: Die MotoGP-seisoen spring in 2025 en ’26 in Thailand weg, die eerste keer in meer as 25-jaar dat die kampioenskap in Suidoos-Asië begin. Die eerste wedren van 2025 is op 2 Maart op die Buriram-renbaan, baie vroeër as sy huidige datum van laat-Oktober. Die eerste MotoGP daar was in 2018, maar geen wedrenne is in 2020 of ’21 daar gehou nie weens die Covid-19-pandemie. Die seisoen het in die onlangse verlede tradisioneel in Katar begin, hoewel die eerste wedren verlede jaar in Portugal plaasgevind het.
# Ons sluit af met tennis: Die Spaanse ster-speler Rafael Nadal sê hy het nog nie besluit wanneer hy gaan uittree nie en sal nie oorhaastig ‘n besluit neem nie. Die 38-jarige wenner van 22 Grand Slam-toernooie berei tans voor om vir Span Europa te speel in volgende maand se Laverbeker-kompetisie in Berlyn, saam met sy landgenoot Carlos Alcaraz, Alexander Zverev van Duitsland, Daniil Medvedev van Rusland, Casper Ruud van Noorweë en die Griek Stefanos Tsitsipas. Nadal sê hy sal uittree wanneer hy voel hy kan nie meer mededingend speel nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….