Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ontleders glo die MK-party loop gevaar om ‘n eenverkiesingswonder te word
# AfriForum is bekommerd oor die veiligheid op Weermag-basisse
# En, rugby: Die All Blacks se hulpafrigter Leon MacDonald bedank
# Die MK-party loop gevaar om ‘n eenverkiesings-wonder te word as hy nie strukture bou en partybeleid opstel nie. Dit is volgens die onafhanklike politieke en verkiesingsontleder, Wayne Sussman. Hy sê die party het momentum verloor ná die verkiesing in Mei. ‘n Senior dosent in Politiek aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, Zakhele Ndlovu, sê die gebrek aan behoorlike strukture, die persoonlikheidskultus rondom oudpresident Jacob Zuma, en die afdanking van leiers definieer tans MK. Hy sê sommige van die probleme is veroorsaak deur die manier waarop dit gevorm is.
# AfriForum vra die minister van Verdediging, Angie Motshekga, om onmiddellik aandag te gee aan die ernstige kwessies wat nasionale veiligheid bedreig. Dit volg ná sekerheidsbreuke by basisse van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Jacques Broodryk van AfriForum sê vervalle veiligheidsheinings, gebrekkige toegangsbeheer en die algehele gebrek aan instandhouding stel basisse bloot aan ongemagtigde toegang en misdaad:
# Belanghebbers wat belangstel in die nasionale minimumloon word uitgenooi om moontlike aanpassings in te dien. Die huidige minimumloon wat in Februarie aangekondig is, is 27-rand-58-sent per uur. Die voorsitter van die Nasionale Minimumloonkommissie, Imraan Valodia, sê geskrewe voorleggings en die kommissie se verslag sal aan die minister van Arbeid en Indiensneming, Nomakosazhana Meth, gestuur word om die minimumloon vir 2025 te bepaal. Die sluitingsdatum vir voorleggings is 30 September.
# Rugby: Leon MacDonald het sy onmiddellike bedanking as Nieu-Zeeland se hulpafrigter aangekondig net voor die twee Rugbykampioenskaps-toetse teen Suid-Afrika. Die ander assistente, Scott Hansen en Tamati Ellison, neem sy verantwoordelikhede oor. Die All Blacks se hoofafrigter, Scott Robertson, sê hy was die afgelope paar weke in eerlike gesprekke betrokke oor verskillende sienings wat betref MacDonald se benadering tot sy rol as aanvalsafrigter:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-910-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-504-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: Die Sphere in Las Vegas sal van 5 September die tuiste wees van V-U2, ʼn konsertfilm wat kykers ʼn volledige beeld gee van U2 se skitterende visuele vertoning. Die musiekgroep het verlede September met optredes begin en tot Maart 40 keer voor altesaam meer as 700-duisend bewonderaars opgetree. MSG Entertainment sê die konsertfilm is spesifiek vir Sphere gemaak en sal tegnologie gebruik om ʼn ervaring te skep wat slegs in hierdie vermaakmedium van die toekoms beskikbaar is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….