Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig verbruikersinflasie het verlede maand tot die laagste vlak in drie jaar gedaal. Volgens ekonome is die vraag nie of die Reserwebank rentekoerse gaan verlaag nie – eerder met hoeveel hy dit gaan verlaag.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die moordverhoor van Natasha Barnard wat in 2022 ná ‘n aanranding by ‘n kroeg in Fochville dood is. Die kroegman, Rudolph Pretorius staan tereg op die moord. Daar was na bewering ‘n onderonsie toe Barnard se bankkaart nie gewerk het nie.
En tweedens is daar nuus oor die oud-Springbok, Victor Matfield se 18-jarige dogter Jaime wat vir die Baba Proteas se netbalgroep vir die Wêreldbekertoernooi gekies is.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die geskorste LP’s van die MK-party sal hul saak op 3 September in die hof stel.
En berig oor die afsterwe van die gewilde wiskunde- en wetenskaponderwyser, William Smith.
# Sowetan:
Berig oor ‘n ondersoek na die verkoop van vals identiteitsdokumente en die polisie wat twee sindikaatlede in hegtenis geneem het.
# En The Citizen:
Lei met: “LIGHT AT END OF ESKOM TUNNEL”. Die koerant skryf oor die sukses wat behaal is by die Matla-kragstasie in Mpumalanga.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig nog ‘n reservaat buite Bloemfontein is deur ‘n brand verwoes. Dit is die Nanati-reservaat by Glen. AfriForum het opnuut gewaarsku teen die hoë brandgevaar in die Vrystaat en Noord-Kaap.
En tweedens skryf die koerant Sanral se plan om ‘n padbouprojek van 2,7-miljard-rand in die Winburg-omgewing aan te pak, is allerweë verwelkom.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n 25-jarige leerkrag van Villiersdorp, Chantel Minnie het in haar klas by die Laerskool De Villiers Graaf inmekaargesak en is kort daarna dood.
En tweedens skryf die koerant ‘n graad 3-leerder van die Greenville Primary School in Gqeberha het geringe beserings opgedoen toe hy van ‘n loopbrug op die eerste verdieping afgeval het.
# En Cape Times:
Skryf slegs twee provinsies is gespaar van afdreiging deur die sogenaamde konstruksiemafia
En berig die hoë sterftesyfer onder mans laat talle kinders wees.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die gebruik van noodfondse om oorsese reise vir amptenare te finansier, is skerp gekritiseer tydens ‘n Nelson Mandelabaai-burgemeesterskomiteevergadering.
En skryf Suid-Afrika sal die gehalte van sy produkte in orde moet kry, want die Europese mark se geduld is op. Dit raak veral sitrus met swart kolle en die onsekere gehalte van die land se volstruis- en beesvleisprodukte.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf oor die storting van ‘n chemiese middel wat inwoners in eThekwini op die vlug laat slaan het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n inspuiting wat aan pasiënte met prostaat- en borskanker gegee word, is reeds vir drie maande nie meer by staatsinstellings beskikbaar nie.
En skryf tweedens die sielkundige van Jandré Dippenaar wat die dood van drie mense in ‘n motorongeluk veroorsaak het, het getuig hy het emosioneel, sosiaal, fisies en finansieel gely ná die ongeluk.