Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as twee-duisend polisie-studente is ontruim na ‘n gas-ontploffing naby die Tshwane-akademie
# Die Parlement se portefeuljekomitee vir Binnelandse Sake versoek spoedige optrede in die Chidimma Adetshina-saak
# En, rugby: Die All Blacks-kaptein keer terug vir die twee toetse teen die Springbokke
# Meer as twee-duisend-500 leerling-polisielede en personeel van die Polisiediens is ontruim uit die Tshwane-opleidingsakademie in Pretoria na ‘n gaspypleiding-ontploffing. Nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola het opdrag gegee vir die ontruiming as ‘n voorsorgmaatreël en ter wille van veiligheid. Woordvoerder Athlenda Mathe sê kenners bestry die brand en ‘n beheersentrum is ingestel:
# Die Parlement se portefeuljekomitee vir Binnelandse Sake vra geen verdraagsaamheid vir identiteitsdiefstal, en optrede in die Chidimma Adetshina-saak. Adetshina het aan die Mej Suid-Afrika-kompetisie onttrek nadat haar ma van identiteitsdiefstal beskuldig is. Die departement se hoof van Teenkorrupsie, Constance Moitse, het bewyse voorgelê wat twee amptenare met die bedrog verbind. Die komitee se voorsitter, Musa Chabane, het teenoor eNCA beklemtoon dis dringend om die saak op te los aangesien die betrokke amptenare steeds in diens van die departement is:
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid vra openbare insette oor moontlike veranderings aan Suid-Afrika se Nasionale Minimumloon vir 2025. Die kommissie, onder die voorsitterskap van Imraan Valodia, sê voorleggings moet teen 30 September ingedien word. Die kommissie sal sy jaarverslag later vanjaar uitgee, wat formele aanbevelings aan die minister van Finansies maak. Die kommissie sê belanghebbers se insette sal in die aanbevelings vervat word, met nog geleenthede daarna vir die publiek om kommentaar te lewer.
# Die Red Suid-Afrika-burgerlike beweging vra die verwydering van die ouderdomsperk vir intreevlak-regeringsposte en polisierekrute. Die organisasie betoog die huidige perk van 35-jaar sluit onregverdig talle vaardige werkers uit. Die direkteur van Veldtogte, Tebogo Mashilompane, sê die verwydering van die perk kan misdaad bestry deur meer indiensnemingsgeleenthede te skep. Die beroep volg ook op Statistieke Suid-Afrika se verslag wat ‘n styging toon in werkloosheid tot 33,5-persent in die tweede kwartaal. Mashilompane sê ouer mense het te doen met beperkte werksvooruitsigte in sleutelsektore.
# Rugby: Die gereelde kaptein van die All Blacks, Scott Barrett, keer na ‘n besering terug vir die twee Rugbykampioenskapstoetse teen die Springbokke. Die stut Ethan de Groot, wat in 2022 teen die Springbokke in Johannesburg beïndruk het, is ook terug na ‘n besering. Die twee toetse, in Johannesburg op die 31ste en in Kaapstad ‘n week later, behoort die kampioenskap te beslis met die Bokke tans boaan die punteleer en die Kiwi’s tweede. Die Bok-afrigter, Rassie Erasmus, verwag ‘n moeilike uitdaging:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-511-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-507-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….